Bible Society of South Africa

Dag 85 – Die almag van Christus

Lees oor die almag van Christus.

Bybelteks(te)

1Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus.

2Aan almal in Kolosse wat aan God behoort, getroue broers in Christus.

Genade en vrede vir julle van God ons Vader!

Ons dank God vir julle

3Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle 4omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges. 5Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is. 6Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is. 7Julle is daarin onderrig deur Epafras, ons geliefde medewerker en 'n getroue dienaar van Christus in julle belang. 8Dit is ook hy wat ons vertel het van die liefde wat deur die Gees in julle gewek is.

Ons bid vir julle

9Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, 10sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. 11Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. 12Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. 13Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. 14Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.

Die voorrang van die Seun

15Die Seun is die beeld van God,

van God wat self nie gesien kan word nie.

Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.

16God het deur Hom alles geskep

wat in die hemel en op die aarde is:

alles wat gesien kan word

en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders.

Alles is deur Hom en vir Hom geskep.

17Voor alles was Hy al daar,

en deur Hom bly alles in stand.

18Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk.

Hy is die oorsprong daarvan,

Hy is die Eerste,

die Een wat uit die dood opgestaan het,

sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.

19God het besluit

om met sy volle wese in Hom te woon

20en om deur Hom alles

met Homself te versoen.

Deur die bloed van sy Seun aan die kruis

het Hy die vrede herstel,

deur Hom het Hy alles op die aarde

en in die hemel met Homself versoen.

God het ook julle met Homself versoen

21Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. 22Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. 23Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. Dit is die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is en waarvan ek, Paulus, 'n dienaar geword het.

KOLOSSENSE 1:1-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS