Bible Society of South Africa

Dag 62 – Jesus loop op water

Lees hoe Jesus op die water geloop het.

Bybelteks(te)

Jesus loop op die see

22Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan. 23Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.

24Die skuit was reeds 'n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor. 25Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom. 26Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis 'n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu.

27Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”

28Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”

29“Kom!” sê Hy.

Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. 30Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!”

31Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

32Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. 33Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.”

Jesus genees mense in die landstreek Gennesaret

34Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. 35Net toe die mense van daardie plek agterkom wie Hy is, het hulle boodskappers deur daardie hele omgewing gestuur, en die mense het almal wat ongesteld was, na Hom toe gebring. 36Hulle het Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.

MATTEUS 14:22-36AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS