Bible Society of South Africa

Dag 61 – Vyf duisend word gevoed

Lees hoe Jesus vyf duisend mense voed.

Bybelteks(te)

Jesus stuur die twaalf uit

1Jesus het die twaalf bymekaargeroep en aan hulle mag en gesag gegee om alle bose geeste uit te dryf en siektes te genees. 2Toe het Hy hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak. 3Hy het vir hulle gesê:

“Moet niks vir die pad saamvat nie, nie 'n kierie of 'n reissak of brood of geld of nog 'n kledingstuk nie. 4En as julle in 'n huis tuis gaan, bly dan in dieselfde huis totdat julle die reis voortsit. 5As daar mense is wat julle nie wil ontvang nie, moet julle van so 'n plek af weggaan en die stof van julle voete afskud as aanklag teen hulle.”

6Hulle het toe vertrek en van die een dorp na die ander gegaan om oral die evangelie te verkondig en siekes gesond te maak.

Die onsekerheid van Herodes

7Herodes, die heerser, het gehoor van al die dinge wat gebeur, en hy was in die war omdat party mense gesê het: “Johannes is uit die dood opgewek;” 8party: “Elia het verskyn,” en ander: “Een van die profete van die ou tyd het opgestaan.”

9Maar Herodes het gesê: “Johannes het ek self laat onthoof. Maar wie is hierdie man van wie ek sulke dinge hoor?”

En hy het geprobeer om Hom te sien te kry.

Die vermeerdering van die brood

10Toe die apostels terugkom, het hulle Jesus alles vertel wat hulle gedoen het. Daarna het Hy hulle saamgeneem in die rigting van die dorp Betsaida waar hulle alleen kon wees. 11Maar die mense het dit te wete gekom en agter Hom aan gegaan. Hy het hulle verwelkom en met hulle gepraat oor die koninkryk van God, en dié wat genesing nodig gehad het, het Hy gesond gemaak.

12Toe die son begin sak, kom die twaalf na Hom toe en sê: “Stuur die mense weg dat hulle by die dorpe en plase in die omtrek slaapplek en kos kan gaan soek, want ons is hier op 'n verlate plek.”

13“Gee julle vir hulle iets om te eet,” sê Hy toe vir hulle.

Maar hulle antwoord: “Ons het hier niks meer as vyf brode en twee visse nie. Of moet ons self vir hierdie klomp mense gaan kos koop?”

14Net die mans bymekaar was al omtrent vyf duisend.

Toe sê Jesus vir sy dissipels: “Laat die mense in groepe van sowat vyftig gaan sit om te eet.”

15Hulle het toe so gemaak en almal laat regsit. 16Daarna het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Toe breek Hy dit en gee dit vir die dissipels om aan die mense voor te sit. 17Almal het geëet en genoeg gekry. Wat oorgebly het, het hulle bymekaargemaak, twaalf mandjies vol.

Die belydenis van Petrus. Die eerste lydensaankondiging

18Op 'n keer terwyl Jesus eenkant besig was om te bid, het sy dissipels by Hom saamgekom. Toe vra Hy hulle: “Wie, sê die mense, is Ek?”

19Hulle antwoord: “Johannes die Doper; party sê weer: Elia, en party: 'n profeet van die ou tyd het opgestaan.”

20“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

Toe antwoord Petrus: “Die Gesalfde van God.”

21Jesus het hulle uitdruklik belet om dit vir ander mense te vertel, 22“want,” het Hy gesê, “die Seun van die mens moet baie ly, deur die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes verwerp word, en Hy moet doodgemaak word, en op die derde dag opgewek word.”

Om Jesus te volg

23Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, 24want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.

25“Wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan? 26Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele. 27Ek sê vir julle die waarheid: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterf voordat hulle die koninkryk van God gesien het nie.”

Die verheerliking op die berg

28Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie woorde gesê het, het Hy vir Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem die berg op om te gaan bid. 29Terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit. 30Skielik was daar twee manne wat met Hom praat. Dit was Moses en Elia. 31Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi.

32Petrus en die ander het intussen vas aan die slaap geraak, en toe hulle wakker word, sien hulle die hemelse glans van Jesus en ook die twee manne wat by Hom staan. 33Toe die manne aanstaltes maak om van Hom af weg te gaan, sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

Hy het nie geweet wat hy sê nie.

34Terwyl hy nog praat, kom daar 'n wolk en gooi sy skaduwee oor hulle, en toe die wolk hulle insluit, het die dissipels bang geword. 35Daar kom toe 'n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom.”

36Toe die stem praat, merk hulle dat Jesus alleen daar is.

Hulle het hieroor stilgebly en in daardie tyd vir niemand anders enigiets vertel van wat hulle gesien het nie.

LUKAS 9:1-36AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS