Bible Society of South Africa

Dag 55 – Doop en versoeking

Lees oor die doop en versoeking van Jesus.

Bybelteks(te)

Die doop van Jesus

13In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word. 14Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?”

15Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.”

Daarna het Johannes ingestem. 16Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos 'n duif sien neerdaal en op Hom kom. 17Daar was ook 'n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

Die versoeking in die woestyn

1Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.

3Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”

4Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe:

“'n Mens leef nie net van brood nie

maar van elke woord

wat uit die mond van God kom.

5Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe:

“Hy sal sy engele oor jou opdrag gee

“en:

“Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.

7Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.

8Toe neem die duiwel Hom na 'n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.”

10Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe:

“Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

11Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

Die eerste optrede van Jesus

12Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na Galilea toe gegaan. 13Hy het nie in Nasaret gaan bly nie, maar Hom gaan vestig in Kapernaum by die see, in die gebied van Sebulon en Naftali. 14So moes vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is:

15“Jy, gebied van Sebulon en gebied

van Naftali, aan die seekant

en oorkant die Jordaan,

Galilea waar die heidene woon!

16Die volk wat in duisternis woon,

het 'n groot lig gesien;

hulle wat in die skemerland

van die dood lewe,

vir hulle het die lig opgegaan.”

17Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

MATTEUS 3:13-4:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS