Bible Society of South Africa

Dag 54 – Johannes die Doper

Lees meer oor Johannes die Doper.

Bybelteks(te)

Die prediking van Johannes die Doper

1Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters.

2In daardie tyd het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom. 3Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 4So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja:

“Iemand roep in die woestyn:

Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.

5Elke kloof moet opgevul en elke berg en bult platgemaak word;

die krom paaie moet reguit en die ruwe paaie gelyk word.

6En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom.”

7Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 9Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

10Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”

11Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”

12Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?”

13En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”

14Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?”

Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”

15Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. 16Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”

18Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig.

19Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het. 20Maar Herodes het nog verder gegaan en Johannes in die tronk opgesluit.

LUKAS 3:1-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS