Bible Society of South Africa

Dag 50 – Die oordeelsdag

Lees oor die oordeelsdag.

Bybelteks(te)

1'n Uitspraak van die Here.

'n Woord van die Here aan Israel deur Maleagi.

Esau en Jakob

2Ek het julle lief, sê die Here. Maar julle vra: “Hoe het U ons lief?”

Esau was tog Jakob se broer, sê die Here, en tog het Ek vir Jakob liefgehad 3en vir Esau gehaat. Ek het sy bergland 'n verlate plek gemaak, sy woongebied vir die woestynjakkalse gegee.

4As Edom sou sê: “Ons is verpletter maar ons sal die puinhope weer opbou,” sal die Here die Almagtige sê: Laat hulle maar bou, Ek sal weer afbreek. Hulle sal bekend staan as die goddelose land, die volk op wie die Here se toorn vir altyd rus.

5Julle sal dit met julle eie oë sien en julle sal sê: “Die Here is groot, ook buite die grense van Israel.”

Waar is die eer wat My toekom?

6'n Seun eer sy vader

en 'n slaaf sy eienaar.

As Ek dan vader is,

waar is die eer wat My toekom?

En as Ek Here is,

waar is die eerbied vir My dan?

Dit is wat Ek, die Here die Almagtige,

vir júlle vra, priesters,

júlle wat My met minagting behandel.

Maar julle vra:

“Hoe het ons U met minagting behandel?”

7Julle bring onrein voedsel op my altaar,

en dan vra julle: “Hoe het ons U te na gekom?”

Julle doen dit wanneer julle dink:

“Die altaar van die Here kan maar met minagting behandel word.”

8Wanneer julle 'n blinde ding bring om te offer,

is dit dan nie verkeerd nie?

En wanneer julle 'n siek of 'n lam ding bring,

is dit nie verkeerd nie?

Bring bietjie so iets vir jou goewerneur!

Sal hy ingenome met jou wees of jou vriendelik ontvang?

Dit is wat die Here die Almagtige sê.

9En dan sê julle: “Maak God dan tog nou goedgesind

dat Hy ons genadig kan wees!”

As julle só optree,

sal Hy een van julle se versoek toestaan?

Dit is wat die Here die Almagtige sê.

10Was daar maar iemand onder julle wat die tempel se deure wou toesluit, sodat julle nie my altaar tevergeefs aan die brand hou nie! Ek hou nie van julle nie, sê die Here die Almagtige, en Ek wil nie 'n offer van julle hê nie. 11Van waar die son opkom tot waar hy ondergaan, word Ek deur die nasies geëer. Oral word daar vir My offers gebring, rein offers.

Ek word deur die ander nasies geëer, sê die Here die Almagtige, 12maar júlle doen my Naam oneer aan. Julle dink die altaar van die Here kan maar ontwy word en die offers daarop met minagting behandel word. 13En dan sê julle nog dis 'n klomp moeite en julle trek die neus daarvoor op. Dit is wat die Here die Almagtige sê. Julle bring gesteelde, lam, siek diere, julle bring dit as offers! Moet Ek ingenome wees daarmee dat julle vir My sulke goed bring? vra die Here.

14Daar rus 'n vloek op elke skelm wat 'n bul of 'n ram in sy kudde het en 'n gelofte doen en dan 'n verminkte ding aan die Here offer! Ek is die Grootkoning, sê die Here die Almagtige, vir My het die nasies ontsag.

1Die bevel wat julle ontvang het,

priesters,

2wat julle moet gehoorsaam en waarop julle ag moet slaan,

is om my Naam te eer, sê die Here die Almagtige.

As julle dit nie doen nie,

sal Ek 'n vervloeking oor julle bring

en 'n einde maak aan al julle voorspoed.

Ek het dit trouens reeds gedoen,

want julle het nie ag geslaan op my bevel nie.

3Ek sal sorg dat julle nie 'n nageslag het nie,

en Ek sal die pensmis van die diere

wat deur julle geoffer word op die feeste,

in julle gesigte spat,

en julle sal saam met die pensmis weggedra word.

4Dan sal julle besef dat Ek vir julle dié bevel gestuur het

sodat my verbond met Levi kan bly bestaan,

sê die Here die Almagtige.

5My verbond met Levi sou vir hom lewe en vrede bring,

en dit het Ek hom gegee.

Hy het My met eerbied gedien

en vir my Naam ontsag gehad.

6Hy het die volk my wil reg geleer

en niks verdraai nie.

Hy het naby My geleef, heelhartig en opreg,

en hy het baie laat afsien van hulle sonde.

7'n Priester moet met kennis kan praat,

daar word verwag dat hy die volk sal kan leer wat my wil is,

want hy is 'n boodskapper van die Here die Almagtige.

8Maar julle het die regte pad verlaat,

julle het baie tot 'n val gebring

met wat julle hulle geleer het;

julle het my verbond met Levi geskend,

sê die Here die Almagtige.

9Nou maak Ek julle ook verag

en sonder aansien by die hele volk,

want julle het nie my wil gedoen nie,

julle was nie onpartydig in julle uitsprake

oor wat my wil is nie.

10Ons het tog almal een Vader,

ons is tog deur een God geskep!

Waarom is die een dan ontrou aan die ander

en ontwy hulle die verbond van God met ons voorvaders?

11Juda was ontrou.

Daar is iets afskuweliks gedoen in Israel, in Jerusalem.

Juda het die heiligdom van die Here ontwy,

die heiligdom waarvoor die Here lief is;

die manne van Juda het met vrouens getrou

wat in diens van 'n ander god staan.

12Mag die Here elkeen wat nog iets te doen wil hê

met 'n man wat so 'n vrou trou,

uit die gemeenskap van Jakob uitroei,

ook al bring so 'n man nog offers

vir die Here die Almagtige.

13Daar is nog iets wat julle doen.

Julle huil en kerm en sug by die altaar van die Here

omdat Hy nie meer julle offers wil aanneem nie,

14en julle vra: “Waarom dan nie?”

Dit is omdat die Here weet wat gebeur het

tussen jou en die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is:

jy was ontrou aan haar,

ontrou aan jou eie vrou,

die vrou aan wie jy plegtig trou belowe het.

15Die Here het man en vrou een gemaak,

een in liggaam en gees.

En waarom een?

Omdat Hy wil hê dat daar 'n nageslag moet wees

wat Hom eer.

Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou

met wie jy van jou jeug af getroud is nie.

16Die Here die God van Israel

sê Hy haat egskeiding.

Egskeiding is niks anders as geweld nie,

sê die Here die Almagtige.

Beheers julle, moenie ontrou wees nie.

Ek gaan nou my boodskapper stuur

17Julle het die Here moeg gemaak met wat julle gesê het,

en dan vra julle nog: “Waarmee het ons Hom moeg gemaak?”

Julle het dit gedoen toe julle gesê het:

“Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense,

Hy hou van hulle,” of toe julle gevra het:

“Waar is die God wat reg moet laat geskied?”

1Ek gaan nou my boodskapper stuur,

Hy sal die pad voor My uit regmaak,

en dan sal die Here na wie julle soek,

skielik na sy tempel toe kom.

Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien,

gaan nou kom, sê die Here die Almagtige.

2Maar wie kan die koms van dié Engel verdra,

wie kan standhou wanneer Hy verskyn?

Hy is soos die vuur van die smelters

en soos die seep van die wassers.

3Soos iemand wat silwer smelt en suiwer,

so sal Hy as regter gaan sit

om die Leviete te suiwer,

om hulle te louter soos goud en silwer,

sodat hulle aan die Here 'n offer kan bring

wat bestaan uit regdoen.

4Dan sal die offer van Juda en Jerusalem

weer aanneemlik wees vir die Here

soos in die ou tyd, soos in jare lank verby.

5Dan sal Ek na julle toe kom as regter:

Ek sal sonder versuim regspreek

teen dié wat hulle met toordery ophou,

teen die egbrekers en dié wat vals ede aflê,

teen dié wat die dagloner te kort doen,

die weduwee en die weeskind veronreg

en die vreemdeling verdring,

teen dié wat nie vir My eerbied het nie,

sê die Here die Almagtige.

Bring die volle tiende

6Ek, die Here, het nie verander nie,

daarom het julle nie te gronde gegaan nie, nageslag van Jakob.

7Van julle voorvaders se tyd af het julle van my voorskrifte

afgewyk en nie daarvolgens geleef nie.

Bekeer julle tot My, dan sal Ek terugkom na julle toe,

sê die Here die Almagtige.

Maar julle vra: “Waarom moet ons ons bekeer?”

8Sal 'n mens werklik vir God beroof?

Tog beroof julle My.

Julle vra: “Waarvan beroof ons U?”

Van tiendes en offergawes.

9Daar rus alreeds 'n vloek op julle

en tog bly julle My beroof;

die hele nasie doen dit.

10Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe

sodat daar iets te ete in my huis kan wees,

en toets My hierin, sê die Here die Almagtige.

Toets My of Ek nie die vensters van die hemel

vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet,

meer as wat julle kan gebruik nie.

11Ek sal die sprinkane keer

dat hulle nie die oes op julle land vernietig nie,

en dat julle wingerde nie sonder vrugte is nie,

sê die Here die Almagtige.

12Dan sal al die nasies julle as gelukkige mense beskou;

julle sal in 'n begeerlike land woon,

sê die Here die Almagtige.

Die son van redding sal skyn

13Julle het vermetele dinge oor My kwytgeraak,

sê die Here.

Maar julle vra: “Wat het ons oor U gesê?”

14Julle het gesê: “Dit is nutteloos om God te dien.

Watter nut het dit dat ons sy bevel uitgevoer het

en in rouklere rondgeloop het

voor Hom, die Here die Almagtige?

15Dit lyk vir ons of dié wat teen Hom in opstand is,

die gelukkiges is,

en of dié wat verkeerd doen, vooruitgaan.

Hulle daag God uit en kom vry!”

16Toe het die mense wat eerbied vir die Here het,

onder mekaar geredeneer,

en die Here het dit gehoor en daarop ag geslaan.

Daar is 'n gedenkboek voor Hom geskryf

met die name van dié wat eerbied vir die Here het

en waarde heg aan sy Naam.

17Hulle sal vir My 'n kosbare besitting wees

die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige.

Ek sal goed wees vir hulle,

soos iemand goed is vir sy seun wat vir hom werk.

18Dan sal julle weer die verskil sien

tussen wie goed doen en wie goddeloos is,

tussen wie My dien en wie My nie dien nie.

1Die dag kom

en hy brand soos 'n oond.

Dié wat teen God in opstand is,

almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees,

en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom,

sê die Here die Almagtige.

Daar sal van hulle nie 'n wortel, nie 'n tak oorbly nie.

2Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam,

sal die son van redding skyn

met genesing in sy strale.

Julle sal vry word en bokspring

soos vetgemaakte kalwers.

3Julle sal die goddeloses vertrap

dat hulle soos stof onder julle voete word

die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige.

Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur

4Onthou die wet van my dienaar Moses,

die voorskrifte en die bepalings

wat Ek aan hom by Horeb gegee het

vir die hele Israel.

5Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur

voordat die dag van die Here kom,

die groot, die verskriklike dag.

6Elia sal vaders en kinders met mekaar versoen

sodat Ek nie hoef te kom

en die land heeltemal vernietig nie.

MALEAGI 1:1-4:6AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS