Bible Society of South Africa

Dag 49 – Die verhaal van Jona

Lees die verhaal van Jona.

Bybelteks(te)

U is die Here, U doen wat U wil

1Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom: 2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.”

3Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy 'n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af.

4Maar die Here het 'n kwaai storm oor die see laat opkom. Daar was 'n baie sterk wind op die see, en die skip wou uitmekaar breek. 5Die matrose het bang geword, en elkeen het tot sy god om hulp geroep. Hulle het die vrag van die skip in die see gegooi om die skip ligter te maak. Maar Jona was onder in die skip waarheen hy afgegaan het om te gaan slaap. Hy het vas geslaap 6en die kaptein het na hom toe gegaan en vir hom gesê: “Wat is dit met jou dat jy lê en slaap? Staan op en bid tot jou god. Miskien sal hy aan ons dink en dan sal ons nie vergaan nie.”

7Toe sê die manne vir mekaar: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan uitvind oor wie hierdie ramp ons tref.”

Hulle het lootjies getrek en Jona is aangewys. 8Toe vra hulle hom: “Vertel ons tog waarom hierdie ramp ons tref. Wat werk jy? Waarvandaan kom jy? Uit watter land en van watter volk is jy?”

9Jona het hulle geantwoord: “Ek is 'n Hebreër. Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.”

10Die manne het baie bang geword en vir Jona gesê: “Wat het jy nou aangevang?”

Hulle het te wete gekom dat hy van die Here af wegvlug: Jona het hulle dit self vertel. 11Toe vra hulle hom: “Wat moet ons met jou maak dat die see weer rondom ons kan kalm word?”

Die see het ondertussen al hoe onstuimiger geword.

12Jona het hulle geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal dit kalm word rondom julle, want ek weet dit is oor my dat hierdie groot storm rondom julle woed.”

13Die manne het hard geroei om weer die vasteland te bereik, maar hulle kon nie, want die see het al hoe onstuimiger geword rondom hulle. 14Toe bid hulle tot die Here en sê: “Ag, Here, moet ons tog nie laat vergaan oor hierdie man nie. Moenie dat ons iemand onskuldig doodmaak nie. U is die Here, U doen wat U wil.”

15Hulle vat toe vir Jona en gooi hom in die see. Die storm op die see het toe bedaar.

16Die manne het toe baie bang geword vir die Here en hulle het vir Hom 'n offer gebring en geloftes afgelê.

Hulp kom net van die Here af

17Toe stuur die Here 'n groot vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en nagte in die vis se maag.

1Toe bid Jona daar binne-in die vis tot die Here sy God. 2Jona het gesê:

“In my nood het ek tot die Here geroep,

en Hy het my gebed verhoor.

Diep in die doderyk het ek hulp gevra,

en U, Here, het my gehoor.

3U het my die diepte ingegooi,

diep in die see, en die watermassa het my omring.

U het golf na golf oor my laat gaan.

4Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn,

maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou.

5Die waters het my toegevou,

die groot water het my omring,

seegras was om my kop gedraai.

6Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge,

die aarde het my vir altyd toegesluit.

Maar U, Here my God, het my van die dood gered.

7Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink,

en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel.

8Dié wat op nuttelose afgode vertrou,

verlaat Hom wat liefde aan hulle betoon.

9Terwyl ek 'n loflied sing, wil ek aan U 'n offer bring;

wat ek beloof het, sal ek doen.

Hulp kom net van die Here af.”

10Toe beveel die Here die vis, en hy het vir Jona op die vasteland uitgespoeg.

God het nie die ramp gestuur nie

1Die woord van die Here het 'n tweede keer tot Jona gekom:

2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.”

3Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Nineve was 'n baie groot stad: 'n mens het drie dae gevat om dit deur te stap. 4Jona het die stad ingegaan en 'n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!”

5Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het 'n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek. 6Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom. Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op 'n ashoop gaan sit. 7Hy het in Nineve laat proklameer: “Die koning en sy raadgewers beveel dat mens en dier, grootvee en kleinvee, aan niks mag proe nie, dat hulle niks mag eet en nie water mag drink nie. 8Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het. 9Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.”

10Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.

Het jy rede om kwaad te word?

1Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword. 2Hy het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is 'n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.

3“Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.”

4Toe vra die Here vir hom: “Het jy rede om kwaad te word?”

5Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad gaan sit en vir hom 'n skerm gebou. Hy het daaronder in die skaduwee gaan sit om te sien wat in die stad gebeur.

6Toe laat die Here God 'n komkommerplant opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona was baie bly oor die komkommerplant.

7Die volgende môre met dagbreek laat God toe 'n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant gevreet, sodat dit verdroog het. 8Toe die son opkom, het God 'n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword en gewens om maar liewer te sterf. Hy het gesê: “Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.”

9Toe vra God vir Jona: “Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant?” en Jona antwoord: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!”

10Die Here het vir Jona gesê: “Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. 11Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, 'n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”

JONA 1:1-4:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS