Bible Society of South Africa
Carina Francke

Dra vrug – Dag 12

Ons kan leef met sy krag

Bybelteks(te)

Die lewende hoop en die egte geloof

3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

1 PETRUS 1:3-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

4Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies 5en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

2 KORINTIËRS 10:4-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die woord “lewe” verwys na die fisiese en die geestelike dimensie van ons bestaan. Wat die fisiese betref weet ons dat iemand lewend is as hy asemhaal of beweeg, maar lééf hy? Laat ek verduidelik: Hy staan op, verrig sy dagtake, gaan huis toe, hoor (miskien) so terloops hoe dit met sy huismense gaan, en gaan slaap. So gaan dit dag na dag – ʼn monotone bestaan.

Om werklik te leef is om op ʼn ontdekkingstog van die lewe te wees: Neem ʼn oomblik om intensioneel na die sonsopkoms te kyk; eet met dankbaarheid jou toebroodjie; hou jou sintuie skerp sodat die onverwagse jou kan verryk, maar meer nog – wees mens vir ander mense rondom jou. Dit is die soort dinge wat jou in oorvloed laat leef en betekenis gee aan jou bestaan.

Maar, die lewe gaan veral oor die geestesdimensie – oor die mens se gees wat lewend gemaak is omdat hy in Jesus glo en Hom leer ken het. Hierdie verhouding deponeer God se krag in jou lewe en daarmee saam ook gawes wat jou in staat stel om weg te hardloop van die geestelike agteruitgang of verrotting wat deur die verleiding in die wêreld aan die gang is. “Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.” (2 Korintiërs 10:4-5) Jy beskik nou oor hierdie wapens.

Jy hoef meer die knie te buig voor versoekings nie. Sy goddelike krag stel jou in staat om dit te weerstaan. Jy kan beheer neem oor twyfel en jou gedagtes wat ronddwaal. Jy kan slim, verwarrende praatjies onbloot vir wat dit is: leuens. En jy kan vry raak van enige dinge in die verlede wat jou in kettings hou.

Die wêreld hoef nie meer jou leefwyse, voorkeure, emosies en optrede te dikteer nie. Nee, jy behoort aan Hom. Jy is deur Hom geroep en sy gawes aan jou word jou paspoort na vryheid. Meer nog, hierdie gawes stel jou in staat om deel te kry aan sy goddelike natuur, om soos Hy te word sodat jou lewe al hoe meer ʼn spieël van sy heerlikheid word.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS