Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Die rol van bome in die Bybel – Dag 9

Die sederboom (deel 2) — groei boontoe, sywaarts en afwaarts

Bybelteks(te)

ESEGIËL 31

Ek het die seder verwerp

1Op die eerste van die derde maand, in die elfde jaar, het die woord van die Here tot my gekom: 2“Mens, sê vir die farao, koning van Egipte, en vir sy leër:

“Wie het soveel mag gehad as jy?

3Daar was Assirië, die seder op die Libanon.

Sy pragtige takke het hulle skaduwee oor die bos gegooi.

Die seder het hoog gegroei,

sy top was tussen die wolke.

4Die water het hom groot laat word,

die onderaardse waters het hom 'n hoë boom gemaak.

Groot strome water het om hom geloop,

en van hom af stroompies na al die ander bome toe.

5Hy het hoër as al die ander bome geword,

sy takke meer en langer

van al die water in die leivore.

6Al die voëls het kom nes maak in sy takke,

onder hom het al die wilde diere

hulle kleintjies in die wêreld gebring

en in sy skaduwee het al die baie nasies kom woon.

7Hy was 'n mooi en 'n groot boom

met wydgespreide takke,

want sy wortels het tot by baie water gekom.

ESEGIËL 31:1-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gister het ons ʼn bietjie gepraat oor die waarde van die seder. In vandag se gedeelte is daar drie dinge oor die manier hoe die seder groei waarop ons gerus kan let.

Seders groei afwaarts. ʼn Seder se penwortel groei diep in die grond op soek na water en dit anker die boom. Numeri 24:6 vertel ons dat Israel soos sederbome by die water is. Paulus spoor die Efesiërs aan om in die liefde gewortel en gegrondves te wees en in Kolossense 2:6-7 lees ons: “Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.”

Seders groei boontoe. Seders kan tot 40 meter hoog word! As Christene loop ons op die aarde, maar ons koppe behoort “tussen die wolke” op Christus gerig te wees. Die Amerikaanse digter en skrywer, J.G. Holland, het op ʼn keer gesê: “God, give us men, tall, sun-crowned, who live above the fog.”

Seders groei sywaarts. Die takke van die seder groei sywaarts en is wyd uitgesprei. Hierdie uitgespreide takke bied dikwels skuiling teen die elemente. Moet ons nie soos die takke van die seder uitreik na ander en hulle behoeftes nie?

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS