Die rol van bome in die Bybel – Dag 5
Die vyeboom (deel 1) — bly soet
Bybelteks(te)
JAKOBUS 3
Vye is bekend vir hulle soetheid. Sowat 50% van ʼn vy bestaan uit suiker en dit is deur die eeue as ʼn plaasvervanger vir suiker gebruik. Die Assiriërs het reeds in 3000 v.C. vyestroop as ʼn versoeter gebruik, ʼn gebruik wat tot in die Middeleeue voortgeduur het. Toe suiker gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog skaars geraak het, het vyestroop weer sy verskyning gemaak.
In Rigters 9:11 lees ons: “Maar die vyeboom sê vir hulle: ‘Moet ek my lekker soet vrugte prysgee? Moet ek tussen die bome gaan ronddwaal?’”
Om lief en dierbaar (soet) te wees kom nie van nature by die mens nie. Hierdie vyeboom was tevrede om net te groei en sy soet vrugte te dra, maar ons wil elke geleentheid aangryp om onsself te bevorder. Soms gee ons ook nie om op wie ons trap om daar te kom nie. Ons is nie tevrede om net te groei en soet vrugte te dra nie, en hoe moeiliker omstandighede raak, hoe moeiliker is dit om lief en dierbaar te bly.
ʼn Vyeboom kan nie olywe dra nie want dit is ʼn vyeboom. Dit is so ooglopend. Hoekom is dit dan so maklik vir ons om te leef asof ons nie kinders van God is nie?
Om ʼn Christen te kan wees wat soet vrugte dra, is dit nodig om ons aan die Woord van God bloot te stel.