Die rol van bome in die Bybel – Dag 3
Die amandelboom — leef weer
Bybelteks(te)
NUMERI 17
Die amandelboom is ʼn boom met langwerpige blare met ʼn getande rant. In Israel is hierdie bome teen einde Januarie en begin Februarie oortrek met bloeisels; hulle is die boodskappers dat die lente kom. Hierdie vroë bloeisels gee aanleiding tot die Hebreeuse naam shaqedh wat iets van die idee van “vroeg” weergee.
Die priesterskap in Israel was ʼn groot twispunt onder die Israeliete — Korag en sy bende het nie Moses se leierskap of Aäron se priesterskap gerespekteer nie. Iets drasties moes gedoen word om die verset van die Israeliete te beëindig. In Numeri 17 het die Here vir Moses gesê om ʼn kierie vir elkeen van die 12 stamme te kry, en ʼn naam op elke kierie te skryf en dit oornag in die tent van ontmoeting te plaas. Die volgende oggend was net die amandelhoutkierie van Aäron ʼn lewende tak met botsels, bloeisels en selfs ryp amandels. Daar was nou geen twyfel dat Aäron die regte man vir die taak was nie.
Alles in hierdie wonderwerk is teenstrydig met die natuur. Om ʼn stuk droë hout wat reeds lankal van ʼn boom afgesny is, en wat vir ʼn nag in ʼn droë plek opgesluit was, die volgende oggend vol lewe te sien, het geen twyfel by die Israeliete gelaat dat God self ingegryp het nie.
Soms voel ons soos een van hierdie kieries — heeltemal uitgedroog en sonder lewe. Dit is nie onmoontlik vir ons God om ons kierie weer met botsels en bloeisels te oortrek en selfs oornag vrugte te laat dra nie — solank ons net gewillig is om te dien! Die vraag is: Is ons gewillig?