Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Die rol van bome in die Bybel – Dag 19

Nebukadnesar se boom — die verganklike en die onverganklike

Bybelteks(te)

DANIËL 4

10“Ek het hierdie visioen in my slaap gehad:

“Toe ek kyk,

sien ek 'n boom in die middel van die aarde,

en dit was baie hoog.

11Die boom het so groot en sterk geword

dat sy top aan die hemel geraak het,

en dit was oral op die aarde sigbaar.

12Sy blare was mooi en sy vrugte was groot,

daar was genoeg kos aan hom vir die hele wêreld.

Onder hom het die wilde diere skaduwee gesoek,

en in sy takke het die voëls nes gemaak.

Alles wat leef, het van hom hulle kos gekry.

DANIËL 4:10-12AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die vierde hoofstuk van die boek Daniël het Nebukadnesar ʼn droom gehad van ʼn boom wat afgekap word (Daniël 4:13-17). Daniël verklaar die droom en verduidelik aan Nebukadnesar dat hyself die boom is. Indien die koning nie bely dat die Allerhoogste al die mag het nie, sal hy sy verstand verloor en hy sal uit die samelewing verstoot word (Daniël 4:19-27).

Koning Nebukadnesar was een van die magtigste konings wat die wêreld nog ooit gesien het. Hy het vir langer as 40 jaar regeer en met sy dood in 561 v.C., was die stad Babilon die simbool van prag en praal en wêreldheerskappy. Maar soos die geval met baie mense, is hy ook mislei deur die verganklike dinge van hierdie wêreld. Hy het sy rug op God gekeer en het baie trots geword. Sy droom vertel ons van ʼn baie hoë, groot en sterk boom. Toe kom die bevel: “Kap af die boom, kap af sy takke, stroop af sy blare …” (Daniël 4:13-14). Die boodskap was duidelik — in ʼn oogwink sou die rykdom en sukses van die koning verlore wees. Alles wat Nebukadnesar besit het, sou vergaan! Alles waarop hy vertrou het, sou verdwyn! In 538 v.C., minder as ʼn kwarteeu na die dood van Nebukadneser, het Babilon in die hande van Kores, die koning van Persië geval.

Wanneer Jesus die gelykenis van die ryk dwaas (Lukas 12:13-21) vertel, wys Hy ons ook op die gevaar daarvan om op besittings te vertrou. Hy waarsku die skare dat “ʼn mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” Ons is dikwels so vasgevang in die sake van hierdie wêreld dat ons vergeet hoe verganklik alles is. Ons gebruik ons tyd en talente vir die verganklike dinge en verwaarloos Jesus, die Bron van ons ewige vreugde en lewe.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS