Die rol van bome in die Bybel – Dag 15
Die balsem van Gilead — ʼn teengif vir sonde
Bybelteks(te)
JEREMIA 8
Die balsemboom is nie juis ʼn baie indrukwekkende boom nie. Dit is ʼn klein soort gomboom met smal blare en klein blommetjies wat in warm woestynstreke voorkom. Dit is in Gilead aangeplant. Gedurende die somer skei die boom ʼn soet welriekende hars af. Uit hierdie hars is ʼn olie gepers wat genesende eienskappe bevat het, en wat regoor die wêreld bekend was. Die proses om die olie uit te pers was ʼn groot geheim en die olie is onder streng bewaking na die store van die heersers geneem. Toe argeoloë opgrawings in Gilead gedoen het, het hulle ʼn toring gevind waar die olie na alle waarskynlikheid gedistilleer is. Die toring was so deeglik versterk dat een van die argeoloë opgemerk het: “Hierdie plek is so sterk soos Fort Knox.” Die olie was uiters kosbaar en is dikwels in ruilhandel gebruik. Die karavaan wat Josef na slawerny in Egipte geneem het, het ook van hierdie kosbare balsem by hulle gehad (Genesis 37:25).
Hierdie kosbare balsem uit die natuur is ʼn pragtige illustrasie van Jesus — die balsem van Gilead, die groot Geneesheer, die teengif vir sonde, en die Oorwinnaar van die dood. Toe Jesus gesterf het, het Satan geglo hy het die oorwinning behaal, maar in werklikheid het die dood sy angel verloor (1 Korintiërs 15:54-57). God het Jesus met groot mag opgewek (Romeine 1:4). Jesus het die dood oorwin en Hy is die teengif of balsem wat ons siek sondige siele genees. Hy is die boom van die lewe en “die blare van die boom, bring genesing vir die nasies” (Openbaring 22:2).