Die rol van bome in die Bybel – Dag 1
Soos ʼn boom
Bybelteks(te)
PSALMS 1
Regdeur die Bybel word daar baie van bome gepraat — in die Engelse King James Bybel word daar na 37 verskillende soorte bome verwys. Sommige soorte soos die sipres-, akasia- en die esseboom word slegs een keer in hierdie vertaling genoem. Ander, soos die palmboom, die olyfboom, die vyeboom en die sederboom word verskeie kere genoem. Vir die res van die maand gaan ons deur ʼn woud stap bestaande uit bome wat in die Bybel voorkom en ons gaan van hulle leer.
Voordat ons begin om die belangrikheid van spesifieke bome in die Bybel te bespreek, gaan ons eers fokus op vier kenmerke van bome waarna in die Bybel verwys word, en wat Christene moet nastreef.
Om soos bome te wees, moet ons geplant, produktief, ʼn lus vir die oog en voorspoedig wees.
Bome word geplant. Soos ʼn boom moet ons verplant word, oorgeplant vanuit ons ou lewe na ʼn nuwe verhouding met Christus. En dit is belangrik dat ons deur God self verplant word, want in Matteus 15:13 lees ons: “Maar Jesus antwoord: Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word.”
Bome is produktief. Let op die frase “… by waterstrome geplant …” Indien ʼn boom nie water kry en sy wortels nie die water kan opsuig nie, sal dit verdroog en doodgaan. Wanneer God jou plant, plant Hy jou in jou eie lewegewende bron, die Heilige Gees, sodat jy kan groei en floreer en produktief kan wees vir Hom. Jou wortels is geanker in hierdie lewegewende bron wat jou in staat stel om die vrug van die Gees te dra.
Môre kyk ons na wat ons by bome kan leer oor skoonheid en voorspoed.