Die Heilige Gees – Dag 5
God praat deur ʼn donkie?
Bybelteks(te)
2 PETRUS 2
Wanneer ons met ons honde gaan stap, bevind ons ons soms in ʼn moeilike situasie aangesien ons een hond baie ontsteld raak as ons ʼn ander hond of honde teëkom wat met hulle eienaars gaan stap. Dit is asof sy aanstoot neem dat hulle op “haar” pad stap. Sy sal onmiddellik wegrem en met ons begin “praat” in onverstaanbare, maar tog duidelik klaende, selfvoldane tjankgeluidjies — dit dwing ons om te stop en saggies met haar te praat of in ons spore om te draai, in die hoop dat sy die kastige “belediging” sal vergeet. Hierdie uitwerking tydens ons stap is baie uitputtend, byna dieselfde as wat Bileam met sy donkie daar op die pad in Moab ondervind het. Al verskil is dat God deur sy donkie met Bileam gepraat het om te doen wat God wou hê hy moet doen.
Ons het reeds gesien hoe die Gees van God deur twee konings, Dawid en Josafat, gewerk het, maar om te hoor hoe Hy praat deur Bileam, ʼn waarsêer, en deur sy donkie, ʼn stom dier, is baie onverwags. Dit is die donkie wat die engel van die Here sien en weier om vorentoe te beweeg. Die eerste keer het hy die veld ingeloop, die tweede keer het hy Bileam se voet teen ʼn muur vasgedruk, en die derde keer het hy gaan lê, elke keer om te keer dat Bileam verder gaan. Toe hy die donkie vir die derde keer slaan, lees ons: “Toe laat die Here die donkie praat, en die donkie sê vir Bileam: ‘Wat het ek jou aangedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het?’ … ‘Is ek nie die donkie waarop jy nog altyd gery het nie? Maak ek altyd so met jou?’… Die Here het Bileam se oë oopgemaak en hy het die Engel van die Here in die pad sien staan met ʼn ontblote swaard in die hand …” (Numeri 22:28,30-31). “Waarom het jy jou donkie nou al drie keer geslaan? Ek het jou kom voorstaan, want Ek sien jy is op ʼn gevaarlike pad … As hy dit nie gedoen het nie, het Ek jou al doodgemaak en hom laat leef.” Bileam sê toe vir die Engel van die Here: “Ek was verkeerd …” (Numeri 22:32-34).
ʼn Mens besef dat die Here geensins beperk is wanneer Hy sy boodskap wil oordra nie; Hy praat deur die goddelose, deur buitengewone omstandighede, deur die skepping, deur sy dienaars en deur die Bybel. Bileam is in versoeking gebring deur die aanloklike beloning wat Balak, die koning van die Moabiete, hom aangebied het om die Israeliete te vervloek. Hy het in baie gode geglo, maar het erken dat die Here die kragtige God is. Alhoewel die Here vir Bileam gesê het om nie saam met die Moabitiese prinse te gaan nie en om Israel nie te vervloek nie omdat Hy hulle geseën het, het hy tog saam met hulle gegaan. Dit het hierdie buitengewone insident met sy donkie geverg om uiteindelik te doen wat die Here hom beveel het. Later lees ons: “en toe hy [Bileam] opkyk en die stamme van Israel langs mekaar sien woon, het die Gees van God oor hom gekom, en toe kom Bileam met hierdie uitspraak: … ‘Geseën is hulle wat jou seën, vervloek is hulle wat jou vervloek’ ” (Numeri 24:2,9). Wat ʼn wonderlike God!