Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 2

Ryke verskeidenheid

Bybelteks(te)

PSALMS 8

10Here, ons Here,

hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!

Wanneer jy met ʼn kamera loop en begin foto’s neem, kom daar altyd ʼn verskeidenheid onderwerpe na vore. Gebeure, mense en situasies wat uitroep: “Neem my af! Vang my vas met jou kamera. Maak iets moois van my, want ek is besonders.”

Dit is so dat ons as mense nie altyd alles rondom ons raaksien wat so spesiaal is nie. Die rede is eenvoudig – ons as mense spesialiseer. Spesialisasie is die gevolg van smaakverskille. Vir die een persoon spreek ʼn mooi natuurtoneel boekdele en vir ander is dit amper niksseggend. Dink maar aan ʼn mooi sonsondergang. Vir die een veroorsaak ʼn marktoneel in ʼn vreemde land of stad groot opgewondenheid, terwyl iemand anders geen erg daaraan het nie. Dit is maar net nog ʼn klomp mense wat bymekaar is.

ʼn Foto van ʼn kind of kleinkind maak ouers en familie opgewonde, terwyl mense buite die familie- of vriendekring gewoon nie daaroor opgewonde kan raak nie.

Is dit dan so verkeerd? Nee, glad nie, inteendeel. Dit dra by tot die ryke verskeidenheid van denke en ingesteldhede.

Hierdie tapisserie van denke en ingesteldhede vertel uiteindelik ʼn storie van hoe groot ons God is – dat Hy so groot is dat Hy al hierdie verskillende smake en uitgangspunte kan akkommodeer en dat Hy nie omgee wat jou voorkeure is nie. Hy gebruik dit deur dit in ooreenstemming te bring met die groter prentjie, wat Hy weer met sy liefde, genade en barmhartigheid vul.

Hy skep ruimte sodat die kleiner prentjie wat nie net vir ons spesiaal is nie, maar wat ook sin maak, inpas binne die groter prentjie, binne die groter geheel.

As ons dan inpas by God se prentjie of, sal ek sê, God se groot geheel, dan kan ons nie anders as om saam met die psalmis te sê nie: Hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde.

Dit moet ons opgewonde maak om te weet ek so spesiaal is dat ek, ten spyte van al my eienaardighede, tog belangrik genoeg vir die Drie-enige God is, dat Hy met my bemoeienis maak. Dus is dit net van pas dat Hy al die lof en eer sal ontvang wat ek Hom kan gee!

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS