Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 1

Deur my lens

Bybelteks(te)

PSALMS 8

5wat is die mens dan

dat U aan hom dink,

die mensekind dat U na hom omsien?

6U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak

en hom met aansien en eer gekroon,

PSALMS 8:5-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Van tyd tot tyd het ek die voorreg om deur die lens van ʼn kamera na die wêreld daar buite te kyk. Dit is verstommend hoe die groter prentjie skielik baie klein word as jy begin om mense en die omgewing vas te vang. Wat egter waar is, is dat daar ʼn klomp herinneringe opgeroep word wanneer jy ná ʼn tyd na die kleiner prentjie kyk. Skielik raak die kleiner prentjie weer groot en omvangryker.

Dit gebeur telkemale ook wanneer ons gebeure in ons lewens in herinnering roep. Ons vergeet van so baie dinge wat oor ʼn periode gebeur het, en dan skielik op ʼn dag, asof van nêrens, kom ʼn klomp beelde en herinneringe na vore.

Ek wil jou nooi om vir ʼn oomblik net stil te sit en jou lewe baie kortliks in herinnering te roep. Van kindsbeen af tot waar jy vandag in jou lewe staan. Wat sien jy? Hoe lyk die prentjies wat by jou opkom?

Daar is prentjies wat jou laat glimlag, van oor tot oor, miskien selfs hardop laat lag. Ja, en dan is daar die prentjies wat by ons baie hartseer en weemoed oproep. Dan is daar ongelukkig ook die prentjies wat vertel van mislukkings en teleurstellings, en jou noop om jou kop in skaamte te laat sak. Hierdie prentjies kan so maklik veroorsaak dat ons die groter prentjie miskyk, vergeet wat die konteks is waarbinne dit gebeur het en wat uiteindelik die uitvloeisel daarvan was.

Die psalmis ervaar ook baie van hierdie gemengde gevoelens, maar dan kom hy tot ʼn slotsom. God is in beheer, ten spyte van. God heers en God laat dinge gebeur tot sy eer. En daarom kan hy nie anders as om God se lof te besing nie. Boonop gee God om vir iemand wat net ʼn spikkeltjie is, gemeet aan die groot heelal. Belangrik genoeg in die klein prentjie, maar met ʼn besonderse plek in die groter geheel.

Al voel jy dalk vandag klein en vasgevang in ʼn klein prentjie, jy is deel van God se groter prentjie.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS