Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 8 September

Hoop

Bybelteks(te)

2 KONINGS 6

Hongersnood in Samaria. Die Arameërs vlug

24Later het koning Ben-Hadad van Aram sy hele leër opgeroep, na Samaria toe opgeruk en dit beleër. 25Daar het 'n groot hongersnood in Samaria ontstaan, en die beleg het voortgeduur totdat die kop van 'n donkie naderhand byna 'n kilogram silwer gekos het en 'n klein skeppie duiwemis sewe en vyftig gram.

26Toe die koning van Israel 'n keer op die stadsmuur langs verbyloop, het 'n vrou uitgeroep: “Help my asseblief, U Majesteit!”

27Hy het geantwoord: “As die Here jou nie help nie, hoe sal ek jou kan help? Uit die dorsvloer of uit die parskuip?”

28Toe die koning haar vra wat haar moeilikheid is, antwoord sy: “Hierdie vrou het aan my voorgestel: ‘Gee jou kind dat ons hom vandag eet, dan kan ons môre my kind eet.’ 29Ons het toe my kind gekook en geëet, maar toe ek vir haar die volgende dag sê: Gee nou jou kind dat ons hom eet, het sy haar kind weggesteek!”

30Toe die koning die vrou se verhaal hoor, het hy sy klere geskeur. Soos hy op die muur langs verbygeloop het, kon die bevolking sien dat hy 'n roukleed onder sy ander klere aanhet. 31Hy het uitgeroep: “Mag die Here my om die lewe bring as ek vandag Elisa seun van Safat se kop op sy lyf laat bly.”

32Elisa het in sy huis gesit saam met die leiers. Die koning het iemand met 'n opdrag gestuur, maar voordat die boodskapper nog by Elisa aangekom het, het hy al vir die leiers gesê: “Weet julle, hierdie moordenaarskind het iemand gestuur om my kop af te kap. Hou dop wanneer die boodskapper kom. Sluit dan die deur en hou hom buite. Sy koning kom agter hom aan.”

33Terwyl Elisa nog so met hulle sit en praat, het die koning self na hom toe gekom en gesê: “Kyk watter ellende het die Here oor ons gebring. Hoe kan ek nog op die Here hoop!”

2 KONINGS 7

1Maar Elisa sê: “Hoor die woord van die Here! So het die Here gesê: Môre hierdie tyd sal 'n mens vir elf gram silwer vyf kilogram meel of nege kilogram gars kom koop, hier in die poort van Samaria.”

2Die adjudant, wat die vertroueling van die koning was, het vir die man van God gesê: “Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel sodat dit nou reën.”

Elisa het geantwoord: “Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal nie daarvan eet nie.”

3Daar was vier melaatses by die ingang van die stadspoort. Hulle het vir mekaar gesê: “Hoekom bly ons hier tot ons doodgaan? 4As ons sou besluit ons wil in die stad ingaan, sal ons daar doodgaan, want daar is hongersnood in die stad. Bly ons hier, is ons ook dood. Kom ons loop oor na die kamp van die Arameërs toe! As hulle ons laat leef, leef ons; as hulle ons doodmaak, is ons dood!”

5Skemeraand het hulle na die kamp van die Arameërs toe vertrek. Toe hulle by die kant van die kamp van die Arameërs kom, ontdek hulle dat daar niemand is nie! 6Die Here het die Arameërs in die kamp die geluid laat hoor van strydwaens, perde en 'n groot leër. Hulle het vir mekaar gesê: “Die koning van Israel het die konings van die Hetiete en van Egipte gehuur om ons aan te val.”

7In die skemer het hulle op die vlug geslaan. Hulle het die hele kamp net so gelos soos dit was, tente, perde en donkies, en vir hulle lewe gevlug.

8Toe hierdie melaatses by die kant van die kamp gekom het, het hulle in 'n tent ingegaan en geëet en gedrink. Hulle het ook silwer, goud en klere daaruit gevat en dit gaan begrawe. Daarna is hulle 'n tweede tent in waaruit hulle ook goed gevat en gaan begrawe het. 9Hulle sê toe vir mekaar: “Ons maak nie reg nie. Vandag is 'n dag vir blydskap en ons bly stil! As ons wag tot ligdag, sal ons beslis gestraf word. Kom ons gaan vertel dit by die paleis van die koning.”

10Hulle het by die stad aangekom en na die wagte geroep en vir hulle vertel: “Toe ons by die kamp van die Arameërs gekom het, was daar niemand te sien of te hoor nie. Daar was net vasgemaakte perde en donkies, en die tente net soos hulle gelos is.”

11Die wagte het die nuus verder oorgedra totdat dit binne in die paleis bekend geword het.

12Die koning het die nag opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Ek sal julle vertel wat die Arameërs met ons wil doen! Hulle weet ons is uitgehonger. Hulle het uit die kamp uit gegaan en in die veld gaan wegkruip met die gedagte: as die Israeliete uit die stad uitgaan, vang ons hulle lewendig en kom so self in die stad.”

13Een van sy amptenare het hierop geantwoord: “Laat van ons mense vyf van die perde vat wat nog oor is, dan stuur ons hulle met die perde en kyk wat gebeur. Hulle sal dit óf oorleef soos die menigte Israeliete wat nog in die stad oor is, óf hulle sal omkom soos die menigte Israeliete wat hier al aan hulle einde gekom het.”

14Hulle het twee strydwaens met perde gevat. Die koning het hulle agter die leër van die Arameërs aan gestuur met die opdrag: “Gaan kyk.”

15Hulle is agter hulle aan tot by die Jordaan. Die hele pad het vol klere en goed gelê wat die Arameërs in hulle haas om weg te kom, weggegooi het. Die boodskappers het teruggekom en dit aan die koning meegedeel.

16Toe het die volk uit die stad uit gegaan en die kamp van die Arameërs geplunder. Vyf kilogram meel of nege kilogram gars het net elf gram silwer gekos, soos die Here gesê het. 17Die koning het die adjudant, wat sy vertroueling was, in bevel van die poort geplaas, maar hy is deur die volk in die poort doodgetrap, net soos die man van God dit vir die koning gesê het toe dié na hom toe gekom het. 18Dit het gebeur net soos die man van God vir die koning gesê het: “Nege kilogram gars of vyf kilogram meel sal môre hierdie tyd net elf gram silwer kos in die poort van Samaria.”

19Toe het die adjudant mos die man van God geantwoord: “Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel dat dit nou reën,” en Elisa het geantwoord: “Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal net nie daarvan eet nie.”

20Dit is presies wat met die adjudant gebeur het: die volk het hom in die poort doodgetrap.

2 KONINGS 6:24-7:20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Alle dinge verander, dis die enigste konstante waarheid waarvan ons bewus is. Dinge kan negatief verander. Ons kan hoop dat die hongersnood verlig word, en dan verander die situasie sodanig dat ons deur ’n Aramese weermag ook nog beleer word. Maar om hoop te verloor omdat dinge al hoe slegter gaan, maak die noodwendige uitkoms waarop ons kon hoop, eintlik tragies. 5 kg meel is min troos vir iemand wat eergister hul kind gekook en geëet het, omdat hulle nie meer gehoop het op uitkoms nie.

En daarom moet gelowiges hoop in die wêreld verkondig. Die hoop is immers daar. Dit is ’n gegewe. Hoe kan ek nog op die Here hoop? vra die koning vir Elisa. Hoe kan jy nié op die Here hoop nie? Kyk wat doen mense wat nie meer op die Here hoop nie. Hulle eet hul eie kinders twee dae voordat die Here uitkoms bewerk vanuit die einste dinge wat die hopeloosheid veroorsaak. As hulle maar twee dae langer gehoop het.

Daarom, of dit nou die sosio-politieke omstandighede van die land is wat hoop wegskaaf, of persoonlike finansies, of gespanne menseverhoudinge, of verantwoordelikheid in onstabiele omstandighede, of verlies, of vrees, of eensaamheid – hoop op die Here. Moenie nou maar net doen wat mense doen in desperate situasies nie. Moenie die buurvrou oortuig dat ons almal môre deur vyand of hongersnood oorval gaan word en dat ons daarom paniekbevange moet optree nie. Moenie paniekbevange optree omdat die buurvrou paniekerig is nie. Moenie mense veroordeel omdat hulle in hopeloosheid verval nie, maar moet ook nie self die hopeloosheid aantrek nie. Onthou wat sê die Here, anders aan ons as aan mense van Samaria, want ons nood is anders, individueel en stedelik en nasionaal – maar onthou wat sê die Here: Môre dié tyd, is daar uitkoms. Juis in die oop poorte wat julle vandag vrees. Die hongersnood is daar. Die weermag is daar. Maar God is ook nog daar. Hoop op Hom en leef in daardie hoop, totdat die hoop in vervulling gaan.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS