Dagboek 2021 – 7 April
Die Here is altyd met ons (2)
Bybelteks(te)
DIE OPENBARING 1
Voorwoord
Aanhef van die brief
Tema van die boek
Jesus se verskyning aan Johannes
DIE OPENBARING 21
Die nuwe Jerusalem
DIE OPENBARING 22
Johannes skryf aan sewe gemeentes in Klein-Asië om hulle te vertel van ’n openbaring wat hy van God ontvang het (Op 1:1, 4). In hierdie geskrif probeer Johannes die gemeentes oortuig hoe hulle oor die wêreld behoort te dink – ’n wêreld waar alles oor een enkele oortuiging gaan: Die Here God sit op die troon en regeer (Op 4-5). Die gevolg van hierdie oortuiging is dat alles in die skepping die Here moet loof (Op 5:13). Die manier waarop Johannes oor sekere plekke praat, dra hierdie boodskap op ’n baie besondere wyse oor.
Jerusalem is deur Israel gesien as die middelpunt van die hele skepping. Dit is hier waar ’n mens openbarings van die Here ontvang, en as jy in God se teenwoordigheid wou wees, moes jy na die tempel in Jerusalem reis. Van die begin van Openbaring af is Johannes besig om dié beskouing om te draai.
Johannes ontvang nie sy openbaring vanaf God in Jerusalem nie, maar op die eiland Patmos (Op 1:9). Op hierdie eiland was geen tempel vir die God van Israel nie, maar wel een vir die godin Artemis. En tog, omdat Johannes volhard in sy getuienis oor die evangelie, ontmoet hy die lewende God hier op Patmos. Maar dit is nie waar Johannes stop nie.
Wanneer Johannes van Jerusalem praat, noem hy dit Sodom en Egipte (Op 11:8) – plekke wat besonder negatiewe beelde oproep van ongehoorsaamheid, onderdrukking, slawerny en die uitbuiting van mense. En so sê Johannes eintlik: Die heiligheid van God is nie meer hier nie.
Johannes skep aan die einde ’n nuwe verstaan van ruimte. Daar is ’n nuwe verstaan van waar Jerusalem is, waar God is. Dit is daar waar God se Naam aangeroep word, geloof word, geprys word. Daar waar die poorte altyd oop is en almal welkom is, waar mense nie uitgebuit word nie, maar regverdig behandel word. Dit is waar die nuwe Jerusalem is (Op 21:1 – 22:5).
Gesang 509
Ds Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria