Dagboek 2021 – 5 September
Billikheid
Bybelteks(te)
LUKAS 19
Jesus en Saggeus
Saggeus kan nie verby die skare sien …om te sien watter soort mens Jesus is… nie (NDV). Hy is te kort. Dis nie regverdig of onregverdig nie, dit is maar net so. Sy fisiese lengte weerspieël ook ’n geestelike tekortkoming. Saggeus is ’n ander sóórt mens as Jesus. Hy is ryk en beskik as hooftollenaar oor relatiewe mag in die samelewing. Tog stroom mense nie rondom hom saam nie. Inteendeel, mense vermy en beledig hom (tollenaars as belastinggaarders onder Romeinse oorheersing is immers volksverraaiers en dus Godverraaiers). So hy wil graag sien watter soort mens hierdie reaksie van die skare uitlok. Watter soort mens is só gewild en geliefd?
Die skare gaan egter nie vir hom plek maak nie. Hy hoort nie tussen hulle nie, en selfs al het hy, was hulle eerste daar. Dis regverdig, al staan hulle in sy pad. So Saggeus moet iets meer doen. Iets ekstra. ’n Bietjie harder werk om te doen wat ander van nature of as gevolg van ’n geleentheid regkry. Ook dit is regverdig. Maar Jesus is nie slegs regverdig nie, Hy is ook billik. Uit hierdie skare kies Hy Saggeus as die persoon by wie Hy wil tuisgaan. Nie die mense wat eerste daar was, die langstes, die mees geliefdes of die regverdigstes nie. Dié wat eerste was, of lank genoeg was, kan Hom reeds sien. Dié wat goeie menseverhoudinge het en Godvresend leef, het plek in die skare van regverdiges. Mense soos Saggeus kan nie langer word nie. Gemarginaliseerdes kan nie op die volk se Godvresende wyse leef nie, want hulle word nie in die volk toegelaat nie. Jesus bied aan hierdie sondaar ’n geleentheid wat Hy nie aan die res van die skare bied nie, en die skare mor…
Ons werk hard, julle kan dieselfde doen, is ’n regverdige stelling. Ons is lank genoeg om te sien, jy kan ook wees, vertaal egter die onbillikheid van sulke sosiale konsepte. Jesus tree billik op, en skenk aan Saggeus ’n onverdiende geleentheid om as regverdige te begin leef. Naasteliefde is billik.
Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand