Dagboek 2021 – 5 April
Troos en ’n opdrag
Bybelteks(te)
MATTEUS 28
Jesus se opdrag aan die dissipels
Dit vat tyd om skok te verwerk. As jy ’n geliefde verloor het, kan jy nie net onverstoord aangaan met jou lewe nie. As iemand jou vertroue geskok het, kan jy nie sonder meer saam met so iemand werk of bly nie. Dit vat tyd om die gebeure te verwerk en aan te pas by ’n nuwe werklikheid.
Jesus se dissipels het een dag nog gesien hoe Hy Jerusalem op ’n donkie binnery, soos ’n koning. ’n Paar dae later is Hy gevange geneem, verhoor en wreed tereggestel. Dit moes vir hulle ’n geweldige skok gewees het. Al hul drome is daarmee uitgewis. Hul hele lewe van die afgelope drie jaar is omvergewerp.
Die ontdekking van die leë graf en die nuus dat Jesus leef, moes vir sy dissipels nóg ’n skok gewees het. Hoe is dit moontlik? En al die dissipels moes met ’n verlammende skuldgevoel geworstel het. Wat kon ons gedoen het om dit te verhoed? Wat moes ons anders gedoen het? Hoe het ék Hom in die steek gelaat?
Maar wanneer Jesus dan sy getraumatiseerde dissipels na sy opstanding ontmoet, troos Hy hulle: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde… En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. Daarmee saam ’n verrassing: Gaan vertel mense van My oral waar julle kom, en leer hulle ook wat julle by My geleer het. Jesus soek weer die dissipels op wat Hom vroeër verloën en verlaat het. Hy het hulle vergeef en vertrou hulle met ’n nuwe opdrag. So skep Hy vir hulle ’n nuwe werklikheid, ’n nuwe lewe – ’n nuwe opdrag, nuwe lewensin, nuwe inhoud vir die lewe.
As ons in die Lydenstyd weer besef hoe ons Hom ook soms in die steek laat, troos Jesus ons ook met die belofte dat Hy ons vergewe en steeds by ons bly. En die viering van sy opstanding uit die graf roep ons op tot ’n nuwe lewe – nuwe inhoud, nuwe lewensin en ’n dringende nuwe opdrag.
Dr Wouter van Wyk, Sinodaal