Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 31 Oktober

Die hart van aanbidding

Bybelteks(te)

ROMEINE 6

Dood vir die sonde, maar lewend vir God

1Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? 2Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? 3Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so 'n nuwe lewe kan lei. 5Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. 6Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 7Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. 8Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. 9Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. 10Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. 11Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.

12Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. 13Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as 'n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 14Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.

ROMEINE 6:1-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Om God te aanbid en te dien, beteken dat ’n mens jouself volkome aan God gee. Oorgawe aan God het alles met ’n heilige lewe in diens van God te doen. Hoekom sal ’n mens jou lewe aan God wy? Ons leer in die Bybel wie God is. Ons leer God deur sy Woord ken. Daarom is die Bybel as God se Woord noodsaaklik vir gelowiges se lewe. Die Skrif alleen getuig van God se sondaarsliefde.

Paulus sê in Romeine 6:14: Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade. Die wet kan nie red nie. God red die mens deurdat Hy sy Seun stuur. Dit is die wese van God se genade. Die genade van God vernietig die sonde se baasskap. Deur genade alleen word mense gered.

Die kruis van Jesus is só ingrypend, omdat dit God se finale antwoord op die sonde van die mens is. Aan die kruis is afgereken met die mag van die sonde. Wie in Jesus Christus glo, glo ook dat die kruis en opstanding van Jesus Christus redding bring. Deur geloof alleen ontvang ons God se vryspraak.

Daar is net Een wat die stukkende verhouding tussen die mens en God kon herstel. Jesus het alles gedoen om ons met God te versoen. Daar is niks meer nodig nie. Hy is die enigste weg na die Vader toe. In Christus alleen is ons gered.

Oorgawe aan God is die enigste manier om te lewe. Niks anders werk nie. As God jou lewe beheer, kan dit nie buite beheer raak nie. Alles tot eer van God alleen.

Ds Willem Kok, Potchefstroom

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS