Dagboek 2021 – 31 Augustus
Die wonder van God se genade en goedheid
Bybelteks(te)
PSALMS 106
Wie kan sy lof ten volle verkondig?
PSALMS 106
God is nie net liefdevol en getrou nie. Hy is ook genadig en goed. Dis ’n wonderlike vooruitsig om met God ’n pad van goedheid en genade te stap. Iemand het eenkeer gesê: Daar is nie altyd geregtigheid nie, maar God se genade is vir ons genoeg. God se genade is altyd daar. Miskien het iemand jou iewers verontreg. Jou hart is stukkend daaroor. Miskien het jou huismense jou teleurgestel al het jy hulle met liefde oorlaai. Jy voel dalk dat jy gee en gee en nooit ’n dankie daarvoor kry nie. Dis waar dat daar min dinge in lewe is wat regtig regverdig is. Jy sien dalk nie kans vir nog ‘n jaar waarin die lewe jou só onregverdig gaan behandel nie, sien nie kans om eens te probeer nie.
Dis dan die tyd om te onthou dat God genadig is. God se genade is ’n wonder. Dit is groter as onreg, groter as die kwaad en groter as die seer wat ons in ons harte dra. Die digter van Psalm 106 bely sy aandeel aan ongeregtigheid. Net soos sy voorvaders, het hy ook nie God se liefde en trou waardeer nie. Hy het ook die Here se woorde geminag. Tog het die Here hom en sy volk oorlaai met sy liefde. Hy het hulle keer op keer maar weer gaan haal as hulle afgedwaal het. In sy groot liefde was Hy genadig.
God se genade maak dat ek ook verby die ongeregtigheid wat my aangedoen is, kan kyk. God se genade maak my meer as net ’n mens wat haat en vergeld. God se genade en geduld met ons foute en tekortkominge behoort ons te inspireer om ook genade te betoon wanneer ander teenoor ons fouteer.
Het jy al vandag iemand aan God se genade en goedheid herinner? Het jy vandag met jou woorde en dade die wonder van God se goedheid en genade geleef?
Dr Sanrie de Beer, Philadelphia/Bybelgenootskap van Suid-Afrika