Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 3 Mei

Geniet die lewe

Bybelteks(te)

PSALMS 45

Gedig vir 'n koning

1Vir die koorleier: op die wysie van “Lelies”. Van die Koragiete. 'n Gedig. 'n Lied van die liefde.

2Mooi woorde roer in my hart;

ek dra my gedig voor aan die koning;

my tong is soos die pen van 'n vaardige skrywer.

3U is mooier as alle mense;

oor u lippe vloei net vriendelike woorde,

want u hele lewe lank seën God u.

4Kom, held, maak u reg vir die stryd,

kom in u koninklike luister.

5Mag u oorwin!

Knoop die stryd aan vir die waarheid

en vir die reg van die hulpelose!

U is geroepe tot magtige dade.

6U skerp pyle laat volke voor u voete val;

hulle deurboor die hart van die koning se vyande.

7U troon, verhewe wese, staan vir altyd vas,

met u koninklike septer laat u geregtigheid geskied.

8U het die reg lief en u haat die onreg,

want, verhewe wese, onder groot vreugde het u God u bo u tydgenote tot koning gesalf.

9Die geur van mirre, aalwyn en kaneel deurtrek al u klere;

musiek uit u ivoorversierde paleis maak u bly.

10Voor u staan prinsesse, getooi met u juwele,

en aan u regterhand die koningin, versier met goud van Ofir.

11Luister, dogter, luister goed:

neem afskeid van u volk en u familie,

12want u skoonheid bekoor die koning.

U behoort aan hom, u moet hom eer.

13Dogter van Tirus, die rykes van die volk sal u guns soek met geskenke.

14In louter prag staan die koningin daar

in haar kleed van goudbrokaat;

15in haar veelkleurige rok word sy na die koning toe gelei;

sy en haar gevolg van jong meisies, haar vriendinne, word na u toe gebring.

16Onder uitbundige vreugde word hulle ingelei,

betree hulle die paleis van die koning!

17Mag u seuns hê om u geslag voort te sit

dat u hulle kan aanstel as regeerders in die hele land!

18Mag deur my lied die roem van u naam oor geslagte strek,

sodat volke u vir altyd sal prys.

Elke groot godsdiens het sy askete. Mense wat glo dat dit nodig is om hulself uit die wêreld te onttrek en hul fisiese begeertes te onderdruk. Hulle tugtig hulself deur te vas of deur slapelose nagte om te waak. Of deur slegs klere van geweefde hare te dra, of as kluisenaars in totale isolasie te lewe. Hierdie mistasting berus op die idee dat die liggaam die woonplek is van alles wat boos is en dat ons, as ons die eie liggaamlikheid kan onderdruk, nader aan die dieper geestelike realiteit kan kom.

Die Bybel ken nie hierdie teenstelling tussen liggaam en gees nie. In werklikheid veroordeel dit enige vorm van selfgeseling. Dit sien al die (gesonde) plesiere van die lewe as deel van die Here se seëninge. Dit is in die lig van hierdie positiewe uitkyk op fisiese plesier dat ons die Psalm moet verstaan.

Die Psalm is waarskynlik geskryf om ’n koninklike bruilof te vier. Die digter besing die prag en praal van die geleentheid. Die bruidegom is mooier as alle mense en die bruid is uitgevat in ’n goue trourok. Die digter verlustig hom in die skoonheid van die ivoorbeklede paleis, die duur wierook en wonderlike musiek. Hy verheerlik die weelde van die bruilof, maar ignoreer nie morele oorwegings en geestelike waardes nie. Die digter dring aan dat die koning moet intree vir die hulpeloses (vers 5), en loof hom vir sy liefde vir waarheid en geregtigheid. Daar is dus nie ’n konflik tussen fisiese genot en morele waardes nie. Albei is in harmonie.

Daarom dat die Here Jesus dit nie vreemd vind nie om in te gryp as die wyn opraak by die bruilof in Kana (Joh 2: 1 -11). Ons hoef nie bang te wees dat ons die Here se seën gaan verbeur as ons die lewe geniet nie. Of dat ons net die Here se genade kan verdien deur ons liggaamlikheid te ontken nie. Nee, die Here het gekom om vir ons die lewe te gee, en dit in oorvloed (Joh 10: 10).

Ds Willem Dreyer, Delareyville

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS