Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 27 September

Die Here is jou rots, skuilplek en redder

Bybelteks(te)

PSALMS 18

Dit is God wat die oorwinning gee

1Vir die koorleier. 'n Lied van Dawid, die dienaar van die Here. Hy het dié woorde tot die Here gerig op die dag toe die Here hom gered het uit die mag van al sy vyande en uit die mag van Saul.

2Hy het gesê:

Ek het U baie lief, Here, my Sterkte.

3Die Here is my rots, my skuilplek en my redder,

my God, my rots, by wie ek skuil,

my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.

4Onder bespotting roep ek na die Here,

dan word ek van my vyande verlos.

5Bande van die dood het my omsluit,

strome van onheil het my verskrik.

6Bande van die doderyk het my vasgetrek,

strikke van die dood het my bedreig.

7In my nood roep ek na die Here,

ja, ek roep om hulp na my God.

In sy paleis hoor Hy my geroep.

Ek roep na Hom om hulp, en Hy luister na my.

8Die aarde het geskud en gebewe,

die fondamente van die berge het getril en geskud,

want Hy was vertoorn.

9Rook het uit sy neus getrek,

vuur uit sy mond het alles verteer,

gloeiende kole uit sy binneste.

10Hy het die hemel afgebuig en afgekom,

onder sy voete was duisternis.

11Hy het op 'n gerub geklim en gevlieg;

op die vleuels van die wind het Hy nadergesweef.

12Hy het Hom in donkerte gehul,

donker waters en wolkemassas was sy bedekking.

13Uit die gloed voor Hom het wolke getrek,

hael en weerligstrale.

14Die Here het dit uit die hemel laat dreun,

die Allerhoogste het sy stem laat hoor

in hael en weerligstrale.

15Hy het sy pyle afgeskiet

en die vyand uitmekaar gejaag,

hulle met 'n menigte weerligstrale op loop gejaag.

16Die seebodem het sigbaar geword,

die fondamente van die aarde is blootgelê

deurdat U, Here, op hulle gebulder het met die orkaan van u toorn.

17Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp,

my uit geweldige waters uitgelig.

18Hy het my gered van my vyand wat sterk was,

van my haters toe hulle vir my te magtig was.

19Die dag toe hulle my aangeval het,

was my ondergang naby,

maar die Here het my daarvan bewaar.

20Hy het my in vryheid laat uitgaan,

my gered omdat Hy my liefhet.

21Die Here het aan my reg laat geskied,

Hy het my onskuld aanvaar,

22want ek het die wil van die Here gehoorsaam

en my nie teenoor my God skuldig gemaak nie;

23ek het my deur al sy bepalings laat lei en nie van sy voorskrifte afgewyk nie.

24Ek was opreg voor Hom,

ek was op my hoede teen enige ongeregtigheid.

25Die Here het aan my reg laat geskied,

want ek was onskuldig in sy oë.

26U betoon U getrou teenoor die getroue,

opreg teenoor die opregte,

27rein teenoor die reine,

maar U verwerp die huigelaar.

28U red die verdrukte volk,

U verneder die trotses.

29U, Here, laat my lamp helder skyn;

my God gee lig as dit donker is om my.

30Met u hulp loop ek 'n oormag storm,

met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.

31Wat God doen, is volmaak;

wat die Here sê, is suiwer.

Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy.

32Waarlik, wie anders as die Here is God?

Ja, wie anders as ons God is 'n rots?

33God omgord my met krag;

Hy maak my pad voorspoedig.

34Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok;

op hoë plekke laat Hy my stewig staan.

PSALMS 18:1-34AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dawid het Psalm 18 geskryf toe die Here hom uit die mag van Saul gered het, en hy gebruik taal wat uit sy hart kom. Hy skryf in die Psalm dat hy baie, baie lief vir die Here is en hoe hy God in sy lewe beleef. In digterlike taal beskryf Dawid God se krag en mag en sien hy hoe die Here se krag in sy lewensondervindinge aan die werk was. Wanneer hy terugkyk oor sy lewe, beskryf hy God as sy sterkte, rots, skuilplek, redder, skild en veilige vesting. Daar was tye toe die vyand wel te sterk was en waar Dawid op die rand van die dood was, met geen uitweg nie, maar wanneer hy deur die bril van God se genade en barmhartigheid kyk, sien hy dat God nooit ver was nie.

Die pad wat die Here met ons loop, is nie ’n pad waar God keer dat slegte dinge met ons gebeur nie, maar ’n pad waarop God ons beskerm wanneer slegte dinge met ons gebeur. Daarom kan ons soos die Psalmdigter in vers 30 sê: Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie. Met God is dinge wat onmoontlik lyk, moontlik. Dawid sê dat wanneer hy besig is om van mense weg te hardloop en die berge in te vlug en op gevaarlike kranse te hardloop, God vir hom krag gee. God is by hom en hy is nie bang dat sy voete gaan gly nie. Hy sê in verse 33 tot 34 dat God hom met krag omgord: Hy maak my pad voorspoedig. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan. Dit is in die krisisse in ons lewe dat ons besef dat ons soos die Psalmdigter na die Here kan roep en Hom om krag en genade kan smeek. Soos Hy dit vir die digter van Psalm 18 gedoen het, gee Hy self vir ons ook die uitkoms uit moeilike tye.

Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS