Dagboek 2021 – 26 April
Christelik?
Bybelteks(te)
MATTEUS 5
Versoening
Kuisheid
Egskeiding
Die aflê van 'n eed
Vergelding
Liefde vir die vyand
Die Bybel leer ons die Fariseërs het die wet nagekom, maar Jesus het die wet vervul. Jesus het die essensie van die wet geleef, terwyl juis die essensie van die wet in die some van die Fariseërkleed verlore geraak het. Daarom staan Jesus soos Moses van ouds op die berg en Hy leer die mense: Julle het gehoor … maar Ek sê vir julle … só word die wet vervul. En as ’n mens vra hoe, antwoord Jesus: deur die tweede myl saam te stap, deur die ander wang te draai, deur jou vyand lief te hê, deur vir jou vervolgers te bid, deur jou ja ja te laat wees en jou nee nee. Dit is die eintlike geregtigheid van die wet, want in die wet gaan dit meer oor die ander as oor jouself. Dit gaan oor die weduwee en die wese, die vreemdeling, die een sonder klere en kos, die een wat siek is en die een in die tronk. Dit gaan daaroor om die wet te doen, om eenvoudig opreg Christelik te lewe, en om só anders te wees as ander (vers 47).
So ’n vervulling van die wet gaan nie daaroor dat mense goed sal praat van my nie. Nee, dit vestig “die ander” se aandag op die hemelse Vader. Waar die wet so vervul word, doen niemand dit om iets daarmee te probeer verdien nie – almal wat die wet so vervul, doen dit omdat hulle dankbaar is vir verlossing en vir die voorreg om Christen genoem te mag word.
Hoe sal ’n land lyk waarin meer as 80% van die inwoners hulself as Christene beskou, as elke Christen die wet vervul soos Jesus, hul Heer en Meester, dit vir hulle uitgespel het?
Christelik? Dit gaan daaroor om te lewe soos Jesus sy volgelinge geleer het hulle moet lewe. So alleen kom die wet te voorskyn uit die lang some en die lang gesigte van die Fariseërs, en so alleen kom die liefde van God tot ontplooiing in ’n stukkende, liefdelose wêreld.
Dr Christo van der Merwe, Emeritus