Dagboek 2021 – 25 Julie
Die Heilige Gees is God
Bybelteks(te)
1 KONINGS 8
Die ark word in die tempel gesit
Waar woon God? Kan God ingehok word? Kan God vrygelaat word? Kan God in ’n boks rondgedra word? Israel het gereken dat God se teenwoordigheid deur die verbondsark verseker word. Waar die ark is, daar is God. Binne-in die ark was die twee kliptafels met die gebooie van God daarop geskryf (vers 9). Die twee figure van engele op die deksel van die verbondsark het wakend wag gehou oor die heiligheid van die ark. Die ruimte tussen die vlerke van die twee gerubs is beskou as God se troon. Met groot fanfare word die ark gebring na die nuwe tempel wat Salomo vir God in Jerusalem gebou het. Die grootse geleentheid word gekenmerk deur feesviering en buitengewone hoeveelhede diere wat geoffer word. Buitengewone aksies wat pas by die buiten-die-gewone heiligheid van God. Die ark dien as simbool van God se teenwoordigheid. Die tempel dien as simbool van die woonplek van God by sy volk. En wanneer die ark rusplek in die allerheiligste deel van die tempel vind, dan het God tuisgekom, of hoe?
Kan dit wees dat ’n almagtige God gekarwei word in ’n elegante houtkis soos die verbondsark en te ruste gebring word in ’n glansryke aardse woning? Is God dan so mobiel dat Hy met ’n handvatsel opgetel en verskuif kan word na mense se willekeur?
Die ironie, en tot skok van die volk Israel, is dat wanneer die ark in die allerheilige geplaas word, ’n wolk die huis van God vul (vers 10). Iets so vloeibaar, onaantasbaar en onopsluitbaar soos ’n wolk. God vertoon Homself as die misterie wat nóg deur menslike handewerk nóg deur menslike gedagtes vasgevang kan word. God is die Gans-Andere en Onbeskryflike. Wie dink dat hulle God onder die knie kry deur Hom in menslike konstruksies te wil vasvang, staan telkens verwonderd oor die onbeskryflike omvangrykheid van God.
Dalk is die Gees van God soos ’n wolk, dit beweeg waar en wanneer dit wil. Dit werk terselfdertyd sigbaar en onsigbaar. Wie dink dat hulle God volledig ken en verstaan, moet na die wolke kyk.
Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria/Centurion-Oos