Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 24 Augustus

Woede kan verhoudings vernietig

Bybelteks(te)

GALASIËRS 5

Die Gees van God en ons sondige natuur

13Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as 'n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. 14Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 15Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

16Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 17Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. 18Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

19Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. 26Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.

GALASIËRS 5:13-26AFR83Maak oop in die Bybelleser

Woede en ongesonde maniere van woede hanteer kan verhoudings vernietig. Dit is gevaarlik – fisies, geestelik, emosioneel en psigies. Woede is daardie skielike sterk gevoel van ongemak en antagonisme, gerig op die saak of persoon wat ons seer veroorsaak het.

Of dit geregverdig is of nie, die gevoel is altyd daar. ’n Gevoel wat maak dat ons iets daaraan wil doen. Daar is voordele aan woede. Die grootste is dat dit dien as waarskuwing dat iets in die binnekant nie reg is nie. En partykeer kan daar iets goed kom van woede. Onbeheerbare woede is egter baie gevaarlik.

Daar is verskillende vorme van kwaad wees. So kry ons uitsbarstings – dit is ’n onbeheerbare vorm van woede. Dit is eksplosief. Daar is ook ’n ander vorm van woede, naamlik verwyte. ’n Verwyt is woede wat onderdruk is. Dit is net so gevaarlik, want dit vergiftig ons. Iemand sê onlangs: Ons drink die gif en verwag dan dat iemand anders siek moet word. Hoekom leef ons met ’n hele generasie van mense wat net op die woedetreintjie ry? Verwerping is die broeiplek van woede. Partykeer is iemand net kwaad vir hom- of haarself, en weet hulle nie hoe om daarvan ontslae te raak nie.

Woede is die wortel van baie onreg. Jy kan dit nie wegsteek nie. Dit gaan uitkom, en die meeste van die kere gaan die woede gerig word op mense wat dit glad nie verdien nie.

Wat is die effek van woede? Dit beïnvloed ’n mens se spysverteringstelsel, jou kardiovaskulêre sisteem en elke sisteem in jou liggaam. Dit is nie net ’n eenvoudige emosie nie. Wat gebeur as ’n mens nie woede hanteer nie? Passiewe aggressie volg, of die breek van verhoudings. Moenie belangrike besluite neem as jy kwaad is nie, want jy kan nie dan nugter dink nie. En moenie ’n oordeel uitspreek oor ander wanneer jy kwaad word nie. Heel waarskynlik neem jy dinge aan en projekteer jy net sekere dinge op ander mense.

Dr Hein Delport, Swartkop

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS