Dagboek 2021 – 23 Julie
Die Heilige Gees les dors
Bybelteks(te)
2 KONINGS 2
Elisa maak die water van Jerigo bruikbaar
Die inwoners van die stad Jerigo se lewens is deur ’n vloek uit die ou verlede oorheers. Die stad is tydens die intog in Kanaän deur Josua en die Israeliete vernietig en vervloek (Jos 6: 26) en eeue later weer deur koning Agab herbou (1 Kon 16: 34). Maar die vloek het steeds oor die stad gehang. Die fontein wat die stad van water voorsien het, was giftig. Niemand kon die water drink nie en selfs die oeste wat natgelei word, is vergiftig. Ons en ons kinders het nie water om te drink nie, want ons is vervloek. Ons is onrein. Wie kan ons genees? sou die inwoners van Jerigo kla. Water reinig waar onreinheid heers. Maar hoe gemaak as dit juis die water is wat onrein is?
Elisa, die man van God, doen ’n wonderwerk, deur in die Naam van die Here sout te gooi op die oorsprong van die fontein wat die dorp van water voorsien. Van toe af is die water drinkbaar. Nie omdat Elisa so gesê het nie, en ook nie omdat sout ’n toweragtige reinigingsmiddel is nie, maar omdat God so sê. God werk deur sy Gees in Elisa om mense se lewens, hul verlede en hul toekoms, te verander. God deur sy Gees bring lewe deur die water bruikbaar te maak. God maak mense se lewens rein. God neem die vloek waaronder die stad Jerigo vir eeue gely het weg, en bring ’n nuwe toekoms, ’n vrugbare toekoms met die moontlikheid van lewe. Waar die Gees van God regeer, is lewe moontlik. Waar die Gees van God regeer, is reinheid. God les die dors van mense wat smag na lewe.
Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God (Ps 42:2-3).
Gebed
Ek smag na u nabyheid, Here. Les U ook my dors. Amen.
Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria/Centurion-Oos