Dagboek 2021 – 22 September
Soek jul krag in die Here
Bybelteks(te)
EFESIËRS 6
Die Christen se wapenrusting
Die apostel Paulus begin met dié woorde in vers 10: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Maar hoe ironies, dat die Here dikwels tweede kom in mense se lewens. Dikwels stel mense nie die Here eerste in hul soeke na uitkoms in hul moeilike omstandighede nie. Daarom beskryf Paulus die uitdaging van gelowiges as ’n oorlog of ’n geveg waarin hulle moet veg om nie van God verwyder of vervreem te word nie. Wanneer gelowiges uitgelewer is aan die wêreld en hul omstandighede, staan hulle ’n kans om verwond te word, omdat hulle dan juis broos en maklike teikens geword het. Hierdie stryd is ’n persoonlike uitdaging en ’n aanval op ons liefde vir die Here, ons toewyding aan Hom en ons vertroue op Hom. Die strategie is eenvoudig om ons ons hulp en krag by die verkeerde plek te laat soek, want as dit reggekry kan word, is ons van God verwyder en vervreem. Hoe ons as Christene staande kan bly in hierdie stryd, is deur die wapenrusting wat God deur die Heilige Gees gee, aan te trek.
Paulus gebruik verskillende dele van die wapenrusting as beeld om te wys met watter toerusting God ons toerus om in ons geloof staande te bly: …met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God (Ef 6: 14-17).
Verder trek ons die gebedswapenrusting aan en veg in gebed. Gebed is die voorbereiding vir die stryd van elke dag. Die gedeelte begin in vers 10 met Soek julle krag in die Here en sluit af in vers 18 met Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees.
Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente