Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 2 September

Die wonder van God se sorg

Bybelteks(te)

PSALMS 3

Hulp kom net van die Here af

1'n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het.

2Ek het so baie vyande, Here!

Baie kom in opstand teen my.

3Daar is talle wat van my sê:

“Van God kom daar vir hom geen hulp nie!” Sela

4Maar U, Here, beskerm my aan alle kante,

U herstel my eer en aansien.

5As ek na die Here roep,

antwoord Hy my van sy heilige berg af. Sela

6As ek gaan lê, slaap ek goed;

ek word ook weer wakker,

want die Here sorg vir my.

7Ek is nie bang vir tienduisende mense

wat van alle kante af op my toesak nie.

8Kom tog, Here,

help my, my God!

U het nog altyd my vyande se mag verbreek,

U het die aanval van die goddeloses afgeslaan.

9Hulp kom net van die Here af.

U laat dit goed gaan met u volk.Sela

Wanneer jy praat met mense wat slegte nuus oor hul gesondheid of oor hul toekoms ontvang het, wat sê hulle? Nou moet ek my heinings gaan snoei. Ek het daardie plastiese chirurgie nou lank genoeg uitgestel. Ek moet nou daardie verbeterings aan my huis begin doen. Nee, natuurlik sê hulle nie dit nie. Hulle praat oor hul familie en vriende. Hulle kry die mense vir wie hulle lief is so gou moontlik bymekaar. Hulle dink oor maniere om slegte verhoudings te herstel. Hulle praat oor die dinge wat regtig saak maak. Lyding en seerkry doen dit aan ons.

Dit dwing ons om te fokus op die dinge wat regtig saak maak en waardevol is. Dit dwing ons om al die onnodige dinge in ons lewe uit te skakel. Daar is wonderlike skatte wat deel is van elkeen van ons se samestelling. Dapperheid. Integriteit. Lojaliteit. Liefde. Deernis met ander. Dis deel van elkeen van ons se menswees. Somtyds is dit juis ons lyding en seerkry wat ons daarby uitbring om weer hierdie wonderlike eienskappe te herontdek.

Is dit nie ’n wonderlike eienskap van God dat Hy jou jou kop laat optel nie? Psalms 3:4 sê dit mooi: God herstel jou eer en aansien. Aan hierdie Psalm het Dawid vasgehou toe hy van sy rebelseun Absalom gevlug het. In vers 6 bid hy ’n oggendgebed: Hy het die nag oorleef. God sorg vir hom. God se sorg bly. Danksy die wonder van God se sorg kan jy jou kop optel, want die nag gaan altyd verby. God werk daar waar ons elke dag met die gewone dinge besig is. Hy is dáár waar ons daagliks sukkel om ons begrotings te laat klop en ons verantwoordelikhede na te kom. God voorsien elke dag wat ons nodig het om van te lewe. Hy is die Here wat redding bring. Hy is my Here.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia/Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS