Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 2 November

’n Nuwe hart en ’n nuwe oog

Bybelteks(te)

MATTEUS 16

19Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

20Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie.

Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan

21Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.

22Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.”

23Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

MATTEUS 16:19-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons soek almal na vastigheid, waarborge en sekerheid. Van nature soek ons dit by geld en besit, mag en status. Ongelukkig is daar ook die mot en roes en die dief – dit is die bewakers van ons skatte op aarde. Kortom, dit waarop ons ons sekerheid en vertroue bou, is verganklik.

Jesus het op die berg ook oor hierdie nood van die mens gepraat. Sy raad is: Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar… Daar bestaan geen twyfel nie. Dit is nie net raadsaam nie, maar ook moontlik om vir jou ’n skat in die hemel bymekaar te maak. Die geheim is om Christus as lig in jou oog, in jou hart en in jou lewe te kry. Deur sy Gees stel Hy ons in staat om so te begin lewe dat ons gedagtes gerig is op die dinge daarbo. Dan leer ons om God vir alles te vertrou. Ons ontvang die aardse gawes met dankbaarheid uit God se hand, maar verpand ons harte nie daaraan nie. Ons het ’n nuwe hart en ’n nuwe oog ontvang, ’n oog wat nie meer kyk na wat en waar ons kan baat nie. Dit is ’n oog wat God sien en gedurig opkyk.

As ons harte verander en Christus al méér in ons lewe word, beleef ons ’n ongekende rykdom en vrede reeds hier op aarde. Hy is immers die Een wat op ’n ander berg die onmoontlike moontlik gemaak het met sy bloed, met sy lewe. As ek my hele hart en oog op Hom rig, begin ek die heerlike bergpad saam met Hom en in Hom loop. Dan het ek Hom as my Skat, die onverwelklike, onverganklike Ewige op wie en wat mot en roes en dief geen vat het nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees (Matt 6:21).

Ds Willem Kok, Potchefstroom

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS