Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 18 September

Watter woorde beskryf jou geloofsgemeenskap?

Bybelteks(te)

HANDELINGE 2

42Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.

Die eerste gemeente

43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

HANDELINGE 2:42-47AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die gemeenskap van die eerste gemeente in Jerusalem word beskryf met woorde soos gemeenskap, saam, gemeenskaplik, eensgesindheid.

Petrus se woorde het die aanhoorders diep geraak. Hulle wou dadelik weet wat hulle moes doen om aan die oordeel van God te ontkom. Oordeel wat op hulle rus vanweë hul aandeel aan die dood van Jesus Christus. Bekeer julle en laat julle doop; dan, sê Petrus, sal die gevolg wees dat jul sondes vergewe word, en julle sal elkeen die Heilige Gees as gawe ontvang. Dit wat Petrus vir hulle sê, geld vir elke gelowige nie- Jood ook, en vir elke geslag daarna. Daarop kan ons ook aanspraak maak!

So kry ons ’n opsomming van die leefwyse van gelowiges in die gemeente van Jerusalem. Kenmerkend is hoe hulle dit wat hulle in die verkondiging gehoor het, toepas op hul leefwyse. Gelowiges, Jode wat nie hul rug gedraai het op die Israelitiese godsdiens nie. Hulle dien steeds die God van hul voorvaders, die Een wat Hom openbaar in die geskiedenis. Daarom gaan hulle steeds elke dag na die tempel om op die vasgestelde tye te gaan aanbid. Maar hulle kom ook byeen in hul huiskerke en hulle eet elke dag saam. Hierdie maaltye was eintlik ’n sigbare teken dat hulle regtig aan die opgestane Here en aan mekaar verbonde was. Die eenvoud en die toewyding waarmee die gemeente God en mekaar gedien het, het die verbeelding van Jerusalem aangegryp. Die gevolg? Elke dag was daar bekeerdes. Hoe die gelowiges gelewe het, was getuienis van die verandering wat Hy in mense se lewens maak.

Wil, o Heer, in genade voortgaan met u reddingswerk;
leer ons ons talente dankbaar U te wy en aan u kerk.
Deur die waarheid van u lering, deur die wonder van bekering,
dring u liefde ons al meer in u diens te staan, o Heer.
(Gesang 487: 3)

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS