Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 16 November

Joël… die dag van die Here

Bybelteks(te)

JOËL 1

Die dag van die Here is 'n dag van verwoesting

1Dit is die woord van die Here wat gekom het tot Joël seun van Petuel:

2Luister hierna, leiers van die volk,

gee aandag, al die inwoners van die land!

Het so iets al in julle tyd gebeur

of in dié van julle voorvaders?

3Vertel dit aan julle kinders,

en laat hulle dit weer aan húlle kinders vertel,

en dié weer aan húlle nageslag!

4Wat nie deur die eerste sprinkaanswerm opgevreet word nie,

word deur 'n volgende opgevreet;

wat nie deur dié opgevreet word nie, deur 'n derde,

en wat nie deur dié opgevreet word nie, deur 'n vierde.

JOËL 3

18Daardie dag sal daar volop wyn wees op die berge,

oorvloed melk op die heuwels.

In al die slote van Juda sal daar water loop,

'n fontein sal uit die huis van die Here borrel

en die Sittimdal natlei.

19Egipte sal van droogte vergaan,

Edom sal 'n onbewoonbare woestyn word,

want hulle het die mense van Juda wreed behandel

en onskuldige bloed vergiet in hulle land.

20Maar Juda sal sonder ophou bewoon word

en Jerusalem vir altyd.

21Ek sal my volk se sonde vergewe,

die sonde wat Ek nog nie vergewe het nie,

en Ek, die Here, sal op Sion woon.

JOËL 3:18-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die maand voordat die Adventtyd begin, staan in die kerkjaar bekend as eskatologie. Eskatologie beteken laaste dinge. Dit het te doen met die laaste gebeure net voordat iets besonders plaasvind. Omdat ons in die kerkjaar op pad is na die Adventtyd en Kersfees, gee ons nou aandag aan die laaste dinge voordat Jesus gekom het. Die profete het elkeen op ’n eie, unieke wyse oor die laaste dinge geprofeteer.

Joël begin sy profesie met die beskrywing van opvolgende sprinkaanplae en ’n geweldige droogte. Die bedoeling van hierdie rampe is om die volk hulle te laat verootmoedig sodat hulle terugkeer na die Here. Joël beskryf die sprinkane as ’n groot leër wat alles verwoes. Die Here, as Aanvoerder, laat sy stem opklink. Hierdie leër is ontsaglik groot en hulle voer sy bevele uit (2:11). Hierdie dag van die Here is ’n verskriklike dag. Niemand is daarteen bestand nie.

Na die verwoestende optrede van die sprinkaanleërmag, roep die Here die volk op: Kom met julle hele hart terug na My toe… Skeur julle harte, nie julle klere nie (2:12 en 13). Joël moedig die volk aan om terug te keer na die Here, want Hy is immers genadig. Joël aanvaar dat vergewing nie vanselfsprekend is nie. Hoopvol formuleer hy: Wie weet, dalk verander die Here die straf (2:14).

Die Here vergewe: Ek stuur vir julle koring en wyn en olie… (2:19). Die Here stuur ook sy Gees na die mense. So verander Hy die verskriklike dag van die Here in ’n genadedag, ’n dag van oorvloed, ’n dag wanneer Ek my volk se sonde sal vergewe (3:21).

Joël bevestig in sy boodskap dat die Here ellende verander in uitkoms en verlossing, ’n nuwe toekoms. Joël kon nie weet watter nuwe toekoms sou aanbreek nie. Hy kon net verwag dat sonde vergewe sou word. Ons is begenadig om te weet dat daardie nuwe toekoms reeds aangebreek het, want Jesus Christus het gekom.

Kom ons onthou Joël se oproep dat ons met ons harte moet terugkeer na God toe, elke dag.

Dr Frans Boshoff, Emeritus/Chrissiesmeer

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS