Dagboek 2021 – 12 Oktober
Die armoedeprobleem
Bybelteks(te)
MATTEUS 19
Die ryk jongman
Na verlede jaar se pandemie is die ekonomieë van die meeste lande ernstig geknou. Die verbod op reis en die beperkings wat ingestel is om die verspreiding van die virus te probeer voorkom, het ekonomiese aktiwiteite nadelig beïnvloed en tot grootskaalse werkverliese gelei. Die aanduidings is dat werkloosheid alle rekords gaan breek en dat armoede die wêreld soos ’n volgende groot ramp gaan tref.
Vir die wêreld is armoede een van die grootste probleme – en die wêreld se oplossing daarvan is rykdom. Daarom word die skep van rykdom, ekonomiese groei en volhoubaarheid nou van kritieke belang as teenvoeter vir die armoederamp wat ons in die gesig staar.
Dit is in skrille kontras met wat Jesus volgens al vier die Evangelies daaroor te sê het. Jesus het ’n baie groter probleem met rykdom gehad as met armoede. Vir die ryk jong man sê hy om al sy besittings te gaan verkoop en dit aan die armes te gee. Die man het bedruk weggestap omdat hy baie besittings gehad het waarvan hy nie wou afstand doen nie. Jesus het toe vir die dissipels gesê dat ’n ryk mens moeilik in die koninkryk van die hemel sal ingaan. Dit sal so moeilik wees soos wat dit is vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan.
Dink ook aan die gelykenis van die ryk man en Lasarus, die arm weduwee en Jesus se uitsprake oor Mammon. Gelowiges word ook opgeroep om hulle minder te bekommer oor wat hulle gaan eet en aantrek. Hulle behoort by die lelies en die voëls in die veld kers te gaan opsteek en te leer om op God te vertrou. Soek eers die koninkryk!
Die armoedeprobleem word nie opgelos as meer mense meer skatte op aarde bymekaar maak nie. Dink aan die impak op die wêreld as twee biljoen Christene met omgeeharte ’n eenvoudiger, meer Jesus-gerigte lewenstyl sou nastreef.
Here, leer my om U in eenvoud te dien. Amen.
Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria