Dagboek 2021 – 12 Desember
Die Kind van Betlehem is die brood uit die hemel
Bybelteks(te)
JOHANNES 6
Die vermeerdering van die brood
Vyf brode en twee vissies is nie naastenby genoeg vir vyf duisend mense nie. Maar in Jesus se teenwoordigheid is daar altyd oorvloed – méér as genoeg vir elkeen. Hierdie wonder illustreer simbolies die betekenis van sy lewe en sterwe. Daar is ’n duidelike verband tussen die gewone brood wat Hy so mildelik aan die skare uitdeel en die uiteindelike opoffering van sy eie liggaam aan die kruis.
Soos wat Hy hierdie groot skare met verganklike brood voed, só is Hyself die brood wat aan mense die ware geestelike lewe gee. Die groot skare het niks hiervan gesnap nie. Hulle het slegs die brood raakgesien wat hul mae vol gemaak het. Daarom is hulle die volgende dag terug by Jesus, want hulle sien Hom as ’n gratis broodverskaffer.
Jesus se wonderdade is gewoonlik tekens wat op God se genade wys. In hierdie geval, die ware brood uit die hemel wat God aan die ganse mensdom skenk. Jesus is die brood wat lewe gee, die Een wat ons diepste honger en dors kom stil.
Dit is die wese, die essensie van ons Christelike geloof – ons het Hom persoonlik nodig. Sonder Hom bly ons soekers wat nooit vind nie, bly ons hart onrustig totdat dit rus vind in Hom. Partykeer maak ons ook soos die skare: Ons sien Jesus as ’n goeie kontak, ’n gratis broodverskaffer. En dan gebruik ons Nagmaal en dink die tekens van brood en wyn moet asof outomaties die heil bewerk.
Om in Christus te glo, beteken om sy liggaam te eet en sy bloed te drink – ’n persoonlike toe-eiening! Geloof in Christus is ’n intieme, persoonlike verbondenheid met Hom, net soos die brood en wyn deel van jou word. Vanuit hierdie geloof volg die bereidheid om vanuit sy versoening te gaan leef – versoen met God en jou naaste. Om nie langer in vyandskap met enigeen te lewe nie. Vir dié wat glo, is dit die enigste lewensmoontlikheid.
Gesang 299: 1; Gesang 568: 3
Ds Petri de Kock, Pierneef