Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 10 Desember

Wie is werklik die Verlosser van die wêreld?

Bybelteks(te)

LUKAS 2

Die geboorte van Jesus

1In daardie tyd het keiser Augustus 'n bevel uitgevaardig dat 'n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. 2Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. 3Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe.

4Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. 5Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. 6Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. 7Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

Dit is kenmerkend van Lukas dat hy die verlossingsgeskiedenis aan die wêreldgeskiedenis verbind. Christus se geboorte het nie in ’n vakuum plaasgevind nie, maar wel in die tyd toe Augustus keiser in Rome was. Augustus het vrede in die destydse wêreld gebring en het op grond daarvan aanspraak daarop gemaak om die verlosser van die wêreld te wees. Deur sy beriggewing oor Jesus se geboorte bied Lukas egter ’n bedekte uitdaging aan hierdie keiserlike propaganda.

Augustus kan beskou word as die stigter van die Romeinse wêreldryk. Tydens sy langdurige regering (31 vC tot 14 nC) het hy welvaart, orde en wetgewing daargestel en ook die kunste en wetenskap bevorder. Net ’n maand ná sy afsterwe is Augustus deur die Senaat tot god verklaar.

Die nederige omstandighede waarin die Kind gebore word, staan in skerp kontras met die glorie en heerskappy van Augustus. Hierdie tema van nederigheid loop soos ’n goue draad deur die Lukas-evangelie. Maria se loflied (Luk 1:46-55) is een voorbeeld: Ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het … maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog.

Deur te verwys na die groot name van die destydse wêreld, wil Lukas die aandag daarop vestig dat die geboorte van Jesus ’n egte, menslike geboorte was in die midde van die Romeinse wêreld. Dit is met ander woorde geskiedenis, dis ’n feit, nie ’n legende of ’n droom nie. Die geboorte van Jesus, die menswording van God, is deel van ons harde werklikheid.

Dit is in hierdie wêreld, in hierdie geskiedenis, dat die Seun van God gebore word sodat Hy ons tot hulp kan wees – daarvan mag ons seker wees! Die nugterheid van Lukas se berig help ons om weg te kom van ’n sprokieswêreld. Die evangelie word aan ons verkondig te midde van ons elkeen se stryd en worsteling.

Ons God is nie ’n storieboekgod nie, Hy is werklik. Kersfees wil nie net tydelike vreugde bring nie, maar blywende verandering, stabiliteit en koersvastheid.

Gesang 338: 1, 2 en 4

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS