Bible Society of South Africa

Die Bybel in Afrikaans

Afrikaans 1933/1953

Gedeeltes uit die Bybel is in 1878 vir die eerste keer in Afrikaans vertaal deur CP Hoogenhout, A Pannevis en SJ du Toit. Die eerste volledige Bybel is egter eers in 1933 gepubliseer. ’n Hersiene uitgawe word in 1953 uitgegee. Dié vertaling staan vandag bekend as die 1933/1953-vertaling en is steeds ’n baie gewilde tradisionele vertaling wat uit die Hebreeuse, Griekse en Aramese brontekste vertaal is.


Afrikaans 1983

Op 5 Julie 1968 tydens ’n seminaar vir vertalers van die Afrikaanse Bybel en ander belangstellendes, word ’n eenparige besluit geneem om die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) te versoek om te begin met ’n nuwe vertaling in Afrikaans. Dié vertaling moes rekening hou met die ontwikkeling van Afrikaans en so getrou moontlik aan die Hebreeuse, Griekse en Aramese brontekste vertaal word.


Op 2 Desember 1983 word Die Bybel: Nuwe Vertaling in Kaapstad bekend gestel. Die eindredaksie van die 1983-vertaling was proff EP Groenewald (NG Kerk, voorsitter), JP Oberholzer (Ned Herv Kerk, ondervoorsitter), AH van Zyl (NG Kerk, sekretaris), PA Verhoef (NG Kerk), JL Helberg (Geref Kerk) en W Kempen (taaladviseur). Die vertaling is meer betekenis-gebaseerd as die 1933/53-vertaling en slaag uitstekend in sy doel om Afrikaanssprekendes binne en buite die kerk aan te spreek in ’n eietydse dog waardige Afrikaans.


Afrikaans Die Bybel vir almal 2007

Die Bybel vir almal is oorspronklik deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika uitgegee as Die Bybel vir Dowes . Dit is uit die brontekste in maklik leesbare Afrikaans vertaal sonder dat enigiets uit die oorspronklike tekste verlore gegaan het.


Hierdie Bybel is in groot druk gedruk wat dit maklik leesbaar maak. Die groot verskeidenheid voetnote sit woorde, begrippe en interessante inligting uiteen.


Afrikaans 2020

Die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans is op versoek van die Afrikaanssprekende kerke deur die Bybelgenootskap onderneem. Hulle het besef dat daar ʼn Bybelvertaling nodig is wat meer in ooreenstemming is met die brontekste (Hebreeus, Aramees en Grieks) as die bestaande vertalings. Baie gelowiges het ʼn behoefte gehad aan ʼn Bybel wat ʼn getroue weergawe van die bronteks is, maar wat steeds maklik is om te verstaan.


Die vertaalopdrag was dus om ʼn goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel te skep wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.

Klik hier om die Inleiding en Voorwoord van Die Bybel 2020-vertaling te lees.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS