Bible Society of South Africa

Septuaginta

Die Septuaginta is ʼn Griekse vertaling van die Ou Testament. Dit beteken letterlik “sewentig”. Dit is die oudste vertaling van die Ou Testament.

Verskillende vertalers oor ʼn lang tydperk

Die Septuaginta is die eindproduk van baie verskillende vertalers oor ʼn tydperk van etlike eeue. Sommige vertalers het in Israel gewerk (waarskynlik in Jerusalem) en ander in Egipte.

Die eerste boeke wat in Grieks vertaal is, was die vyf boeke van die Tora. Die Griekse vertaling van hierdie boeke is in die derde eeu v.C. voltooi. Die ander boeke is in ʼn later stadium vertaal, die meeste daarvan in die tweede en eerste eeue voor Christus.

Verskillende style

Die styl van die vertalings verskil. Soms het mense baie letterlik vertaal (soos met die vertaling van Rigters, 1 Samuel en 2 Samuel, en 1 Konings en 2 Konings). Maar in ander gevalle (soos die vertaling van Spreuke) was die vertaling redelik vry. Dit is hoekom die Septauginta nie ʼn saambindende eenheid vorm nie.

Sewentig vertalers

Die Septuaginta is vernoem na ʼn legende. Volgens die oorspronklike legende het die Egiptiese farao Ptolemeus II (derde eeu v.C.) aan 72 Joodse geleerdes die opdrag gegee om die vyf boeke van die Tora in Grieks te vertaal. Hierdie 72 geleerdes het na bewering die taak in 72 dae voltooi, en elkeen het onafhanklik van mekaar presies dieselfde vertaling van die Tora gelewer. Dit was die wonderbaarlike oorsprong van die Griekse Pentateug wat deur God geïnspireer is.

Later is die legende aangepas: dit het 70 mans geword (daarvandaan die naam Septuaginta) wat nie net die Pentateug vertaal het nie, maar die hele Ou Testament. In die vroeë Christelike kerk het die Septauginta waarskynlik verwys na die hele Griekse Ou Testament.

Die oudste weergawe van hierdie verhaal oor die oorsprong van die Septuaginta is opgeneem in die Brief van Aristeas, ʼn teks uit die tweede eeu v.C.


 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS