Bible Society of South Africa

Erdewerk

Erdewerk is dikwels in die Ou Nabye Ooste gebruik. Dit was goedkoop en redelik maklik om mee te werk. Potte, panne en bekers is sommige van die voorbeelde van die eindprodukte, maar daar was ook olielampe en ander gebruiksartikels in en om die huis.



Erdewerk was breekbaar en moes gereeld vervang word. Wanneer ʼn pot gebreek het, is die skerwe soms weer gebruik, byvoorbeeld as ʼn skraper, soos in Job 2:8.

Plaaslike en ingevoerde erdewerk

Gewone erdeware vir gebruik in die huis is gewoonlik plaaslik vervaardig. Dit het ʼn eenvoudige vorm gehad en tot en met die Romeinse tydperk is hierdie voorwerpe selde versier, indien ooit.



Daarteenoor is luukse items, soos reukwaterbottels, soms ingevoer en dit was geverf en versier. Sedert die eerste eeu v.C., byvoorbeeld, is erdeware van Griekeland af ingevoer. Boonop is baie oorblyfsels van groot, soliede bekers, wat gebruik is om produkte soos wyn, koring of olyfolie, oorsee te vervoer, gevind. Hierdie soort beker is dwarsdeur die Middellandse kusgebied gebruik.

Romeinse tydperk

In die eerste en tweede eeu n.C. was die mees bekende tipe erdewerk die sogenaamde “Oosterse Terra Sigillata”. Dit kan uitgeken word aan die oranje of geel blink glasuur wat op die erdewerk aangebring is.


Baie items uit die Nuwe Testamentiese tydperk, wat uit Rome ingevoer is of nagebootste Romeinse items, wat plaaslik vervaardig is, is gevind. 


Daarbenewens is baie eenvoudige, onversierde erdewerk uit dieselfde tydperk gevind. Dit kan verbind word aan ʼn groeiende begeerte in sekere Joodse sirkels om uitdrukking te gee aan hulle eie etniese en godsdienstige identiteit.

Belangrikheid van erdewerk vir argeoloë

Vir argeoloë is potskerwe ʼn belangrike bron van inligting. Omdat die vorm van die voorwerpe mettertyd verander het, is dit dikwels moontlik om op grond van die vorm van ʼn pot te kan sê gedurende watter tydperk en gewoonlik ook in watter streek dit vervaardig is. Wanneer potskerwe in die puin van ʼn gebou gevind is, kan dit ook gebruik word om vas te stel wanneer die gebou opgerig is.


 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS