Bible Society of South Africa

Dak

In Israel is die dak nie net gebruik om ʼn huis te bedek nie. Omdat dit plat was, kon ʼn mens ook daarop sit of slaap, en dit vir pakplek gebruik.

Funksies van ʼn dak

Die dak is gebruik om dinge soos veevoer of vuurmaakhout te stoor. Daarbenewens is vrugte of vlas ook in die dak gebêre om uitgedroog te word. Wanneer dit gereën het is die water opgevang en na ʼn wateropgaarbak gelei.


Mense sou op die dak sit om rustig te gesels, soos Saul en Samuel in 1 Samuel 9:25, of hulle het daar geslaap as dit baie warm was, soos die verspieders op Ragab se dak in Josua 2:8.


Soms is godsdienstige rituele ook op die dak beoefen. Jeremia 32:29 vertel ons dat die Israeliete wierook op die dakke vir Baäl gebrand het.

Konstruksie

Die dak is van houtbalke gemaak wat op hout- of klippilare, of mure gelê is. Takke of bondels riete is dan bo-op die houtbalke gelê. Bo-op dit het ʼn laag klei of modder gevolg wat goed saamgepers of met ʼn kliproller platgemaak is. Dit was belangrik dat hierdie laag goed instand gehou moes word om lekkasies te voorkom.


Die dakke van huise was dikwels met plantegroei bedek. Grassade en sade van ander plante het in die dun lagie modder beland. Maar die fel sonskyn het die gras gou vernietig. Soos ons in Psalm 129:6 lees: “mag hulle wees soos gras op ʼn dak: dit verdroog nog voor dit behoorlik uitgespruit het.”


In Romeinse tye is sommige huise ook met teëls of leiklip bedek, soos in die verhaal in Lukas 5:19.

Trappe en relings

Trappe is aan die buitekant van die huis gebou om toegang tot die dak te kry. In ander gevalle is ʼn houtleer gebruik. Langs die rand van die dak is ʼn lae muur of heining aangebring vir veiligheidsdoeleindes. In Deuteronomium 22:8 lees ons die voorskrif: “Wanneer jy ʼn nuwe huis bou, moet jy ʼn reling rondom die dak aanbring sodat jy nie met jou huis iemand se dood veroorsaak as hy van die dak af val nie.” 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS