Bible Society of South Africa

Bokke en skape

Die landskap en klimaat van Israel was by uitstek geskik vir bokboerdery. Bokke eet hoofsaaklik blare en blaarplante en kan daarom in droë en woestynagtige gebiede, waar daar nie baie gras is nie, oorleef. Hulle is kom ook baie goed op klipperige terrein oor die weg.

Om skape aan te hou, was minder eenvoudig. Skape is meer kieskeurig as bokke en eet hoofsaaklik gras. Skape verkies ook om in ʼn plat vallei te wei, eerder as om in klipperige gebiede te loop. Dit is hoekom dit dikwels so moeilik was vir skaapwagters om ʼn geskikte plek vir hul kudde te vind.

Bokke

Bokke is aangehou vir vleis en melk, maar ook vir hulle hare. Bokhaar is gebruik om tente en warm mantels te weef, of om kussings en saals op te stop (Eksodus 35:26). Die bok se vel is gebruik om matjies en kledingstukke te maak. Behalwe vir skape, was bokke een van die belangrikste offerdiere.

Skape

Skape is hoofsaaklik vir wol, maar ook vir vleis, melk, vel en horings aangehou. Die wol is gebruik om klere te maak, en daar was ʼn lewendige handel in skaapwol. Die skape is ná die somerweiseisoen geskeer.
ʼn Ram se horings is gebruik as bekers (vir byvoorbeeld olie) en as musiekinstrumente (die “ramshoring”). Dele van die horing is as meshandvatsels gebruik, asook om juwele te maak. Lammers is dikwels eenkant gesit vir offerseremonies.

Vetstertskape

Skape in Ou Israel was waarskynlik “vetstertskape”, ʼn ras met vet sterte waarin hulle gedurende die jare van oorvloed vet stoor vir die maerder jare. Die stert is in Israel as ʼn lekkerny geëet (Eksodus 29:22).

Bokke en skape saam

Daar was voordele daaraan verbonde om bokke en skape saam in dieselfde kudde aan te hou. Bokke sal aktief en doelbewus soek na kos, terwyl skape skugter en gedweë is en bymekaar bly. Bokke het ook ʼn beter sin vir rigting as skape. Om dié rede het die skaapwagter seker gemaak dat die bokke voor die skape uitloop, sodat hulle vir die skape die rigting kan aandui.

Bokke en skape geskei

Soms was dit nodig om die skape van die bokke te skei, byvoorbeeld wanneer die bokke gemelk moes word. Om die diere te skei, het die skaapwagter sy staf gebruik om die skape na die een kant en die bokke na die ander kant af te keer. ʼn Teks wat daarna verwys, is Matteus 25:32.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS