Bible Society of South Africa

Die suidelike ryk van Juda

Die suidelike ryk van Juda is die naam van die gebied waaroor die nakomelinge van die konings Dawid en Salomo vanaf ongeveer 926 v.C. regeer het. Die hoofstad was Jerusalem. Daar was dikwels spanning tussen die suidelike ryk van Juda en die noordelike ryk van Israel. In 586 v.C. het die suidelike ryk in duie gestort. Die Babiloniërs het die hoofstad Jerusalem ingeneem en die tempel verwoes.

Die ontstaan van die suidelike ryk

Salomo het daarna gestreef om die stamme van Israel polities bymekaar te hou. Na sy dood wou die noordelike stamme meer onafhanklikheid hê, maar Salomo se seun, Rehobeam, was nie bereid om dit aan hulle te gee nie. Jerobeam het daarin geslaag om die weerstand te konsolideer, met die gevolg dat die tien noordelike stamme hulleself van die bondgenootskap gedistansieer het. Die nuwe staat waar Jerobeam koning was, word in die Bybel “Israel” genoem.
Rehobeam kon ook nie die noordelike ryk verower nie. Hy het koning gebly oor die twee suidelike stamme, met Jerusalem as hoofstad. Aangesien hierdie gebied hoofsaaklik aan die stam van Juda behoort het, word die suidelike ryk in die Bybel “Juda” genoem.

Ekonomies onbelangrik

Vergeleke met Israel was Juda ekonomies swak en polities onbelangrik. Dit was nie op ʼn handelsroete geleë nie. Die tempel in Jerusalem het egter hoë aansien geniet, wat verbind kan word aan koning Dawid, die stigter van die koningshuis. Een stabiele faktor in hierdie klein koninkryk was dat ʼn afstammeling van Dawid op die troon was (2 Samuel 7:1-16).
Israel is steeds as gevaarlik beskou. Daarom het die Judese koning Agas in 732 v.C. steun van die Assiriese koning gesoek en Juda het ʼn vasalstaat van Assirië geword. In 722 v.C. het die Assiriërs die noordelike ryk verower en slegs die suidelike ryk van Juda het oorgebly.

Die val van die suidelike ryk

Juda het ʼn bloeityd beleef onder koning Josia wat die gebied omstreeks 620 v.C. van die noordelike ryk verower het. Maar sy seun, Jojakim, het weer ʼn vasal geword, eers van Egipte en later van Babilonië. Jojakim het teen die koning van Babilonië in opstand gekom, maar die opstand is onderdruk.
Die laaste koning van Juda was Sedekia. Hy het ook teen die Babiloniërs in opstand gekom, maar is verslaan. Hierdie nederlaag het die einde van die suidelike ryk van Juda beteken. Jerusalem is verower en die tempel wat koning Salomo gebou het, het in vlamme opgegaan.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS