Bible Society of South Africa

Heiligheid in die Ou Testament: Heiliging en ontheiliging

Volgens die Ou Testamentiese wette geld ʼn toestand van heiligheid of onheiligheid (nie heilig wees nie) nie vir altyd nie. Iets wat heilig is, kan soms sy heiligheid verloor (ontheilig word) en iets wat onheilig is, kan heilig gemaak word (geheilig word).

Heiliging

Daar is verskillende maniere van heiliging:

  • Deur rituele, byvoorbeeld die salwing van ʼn persoon of voorwerp met heilige olie (Eksodus 29:7), of deur ʼn offer aan God in die heiligdom te bring (Numeri 6:19-20).
  • Iets kon heilig word deur dit aan God te wy (sien veral Levitikus 27:9-33). Dit moes letterlik eenkant gesit word. Sodoende was dit moontlik om offerdiere, die eerste vrugte van die oes, ʼn huis, ʼn stuk grond of buit aan God te wy. ʼn Spesiale vorm van hierdie soort wyding was die “ban”. Dit kom gewoonlik in die Bybel in ʼn oorlogskonteks voor. Voorwerpe, land of diere wat onder die ban geplaas is, het óf die eiendom van die heiligdom geword, óf dit moes vernietig word. Mense wat onder die ban geplaas is, moes doodgemaak word (Levitikus 27:29).
  • ʼn Plek kon geheilig word deur die teenwoordigheid of verskyning van God (bv die tabernakel in Eksodus 40:34-35).
  • ʼn Persoon of voorwerp kon heilig word deur aan ʼn heilige voorwerp soos die tabernakel, ʼn tempelvoorwerp of ʼn offer te raak. Dit was ʼn ontoelaatbare vorm van heiligheid wat vermy moes word. Sien byvoorbeeld Eksodus 29:37 en Eksodus 30:29.

Ontheiliging 

ʼn Toestand van heiligheid was nie altyd wenslik nie. Heilige mense of voorwerpe was onderhewig aan allerlei beperkings. Daarom is hulle soms toegelaat om onder sekere omstandighede “ontheilig” te word.


Ontheiliging kon op verskillende maniere bewerkstellig word:

  • Deur sekere rituele uit te voer: die nasireërs kon hulle heilige status beëindig deur ʼn offer te bring (Numeri 6:13-20).
  • Iemand of iets kon ontheilig word deur teruggekoop of “losgekoop” te word. Eersgebore diere en die eerste vrugte van die oes, wat as heilig beskou is en as sulks aan God behoort het, kon losgekoop word deur iets van gelyke waarde aan die heiligdom te gee (sien Levitikus 27:26-27). Vir eersgebore seuns sou mense waarskynlik ʼn offer gebring het om hulle los te koop. Deur middel van hierdie proses is hulle eersgebore seuns losgekoop: dit was nie meer nodig dat hulle aan God afgestaan word nie. 
  • Ontheiliging kon ook plaasvind in onwettige of onopsetlike omstandighede, deur die verbreking van die (rituele) gebooie, in welke geval dit meer korrek sou wees om te praat van “ontwyding”. Die heiligheid van ʼn plek, voorwerp of persoon kon ontwy word deur die misbruik of kontak met iets wat onrein was. Die heiligdom is ontheilig as mense sonder die nodige toestemming daar ingegaan het (Levitikus 21:21-23). Die volk Israel is ontheilig deur afgodediens (Jeremia 16:18), en die sabbat kon ontheilig word deur op daardie dag te werk Nehemia 13:18).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS