Bible Society of South Africa

Dag van die Here in die Ou Testament

Die “dag van die Here” is ʼn belangrike tema in die boeke van die profete. Soms verwys “die dag” na ʼn tyd wanneer God oor Israel en die ander nasies sal oordeel of, soms hierteenoor, ʼn dag wanneer Hy verlossing sal bewerk.

God se oordeel oor Israel en Juda

Voor die Babiloniese ballingskap beskryf die klassieke profete die “dag van die Here” hoofsaaklik as ʼn dag van onheil. God sal die inwoners van Israel en Juda straf omdat hulle nie sy gebooie gehoorsaam het nie. Dit sal ʼn tyd van vrees, duisternis en natuurrampe wees, en Israel sal deur ander nasies verdruk word.

Ons kan hierdie beeld in Hosea, Amos, Miga, Sefanja en Joël sowel as in sommige dele van Jesaja vind.

God se oordeel oor ander nasies

In 586 v.C. is die inwoners van Juda deur ʼn groot ramp getref. Jerusalem en die tempel is deur die Babiloniërs verwoes en ʼn deel van die bevolking is in ballingskap weggevoer. Sommige profete het dit gesien as ʼn teken dat die dag van die Here aangebreek het (sien bv Klaagliedere 1:21; Esegiël 34:12).

Maar weldra is die “dag van die Here” weer eens ʼn eskatologiese betekenis gegee. Die klem het verskuif na die dag van die Here as ʼn tyd van verlossing vir God se volk. Die oordeel sou hoofsaaklik gemik wees op die vyande van Israel, soos Egipte, Edom en Babilon. Hierdie beeld kan byvoorbeeld gesien word in Obadja (Obadja 1:15), en in gedeeltes in Esegiël (bv Esegiël 30:3).

God se verlossing van Israel en ander nasies

Profetiese Skrifgedeeltes van ná die ballingskap (en soms tekste in die klassieke profete) skets ʼn ander prentjie. Hier is die dag van die Here ʼn tyd wanneer God sy volk sal help en hulle weer herstel.

God self sal intree vir sy volk (Maleagi 3:17). Hy sal die Israeliete na hulle eie land laat terugkeer (Jesaja 11:11-12), en Hy sal as Koning oor Israel of oor die hele wêreld (Jesaja 2:2-4; Miga 4:6-7) regeer. Vrede sal op die hele aarde heers (Hosea 2:18; Jesaja 11:1-10), en daar sal oorvloed wees (Jesaja 4:2). Elkeen sal God in daardie tyd leer ken (Jesaja 19:19-25).

Sommige tekste meld die koms van ʼn Dawidiese koning (bv Sagaria 3:8-10).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS