Bible Society of South Africa

Brandofferaltaar

Brandoffers is op ʼn brandofferaltaar aangebied. Volgens Eksodus 27 word Moses aangesê om ʼn brandofferaltaar naby die tabernakel op te rig. Later, toe die tempel in Jerusalem gebou is, is ʼn brandofferaltaar voor die tempel opgerig.

Diere en graan

Diere is as offer op ʼn brandofferaltaar verbrand; soms is net die vetgedeeltes van ʼn dier verbrand. ʼn Aroma van die brandoffer het dan hemelwaarts gestyg. In Genesis 8:21 (1933/1953-vertaling) lees ons: “En die HERE het die lieflike geur geruik”. Behalwe vir diereoffers is graanoffers ook aangebied.

Brandofferaltaar van klip

ʼn Brandofferaltaar is gewoonlik gebou uit klippe wat op mekaar gestapel is. Volgens die aanwysings in Eksodus 20:25 en Deuteronomium 27:5, mag hierdie klippe nie met ystergereedskap gekap word nie. Daarbenewens is geen trappe toegelaat tot by die bo-kant van die altaar nie.

In verskeie verhale in Genesis word ons vertel van die oprigting van die altaar. Dit gebeur dikwels op ʼn plek waar ʼn besondere gebeurtenis of ʼn ontmoeting met God plaasgevind het. Daarom bou Noag in Genesis 8:20 ʼn altaar op die plek waar hy teruggekeer het na die groot vloed. In Genesis 22:9 bou Abraham ʼn altaar om sy seun Isak op God se bevel te offer.

Brandofferaltaar by die tabernakel

In Eksodus 27:1-8 en Eksodus 38:1-7 is daar ʼn beskrywing van die brandofferaltaar wat Moses op God se bevel naby die tabernakel moes bou. Hy moes hierdie altaar uit klip eerder as doringhout bou en dit met brons oortrek.

ʼn Brandofferaltaar kon ook op ander plekke as in ʼn tempel of naby die tabernakel aangetref word. In Israel is verskeie klipaltare gevind wat nie binne ʼn tempel opgerig was nie. Dit sluit dié in Silo en Megiddo in.

Brandofferaltaar by die tempel

In 2 Kronieke 4:1 word vertel hoe Salomo ʼn altaar van brons vir die tempel in Jerusalem laat maak.
In 2 Konings 16:14 lees ons dat koning Agas hierdie bronsaltaar met ʼn groter altaar vervang wat volgens die model van ʼn altaar in Damaskus gebou is. Toe die Israeliete ná die ballingskap na Jerusalem terugkeer, bou hulle onmiddellik ʼn nuwe brandofferaltaar, nog voordat daar met die heropbou van die tempel begin is (Esra 3:2-3).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS