Bible Society of South Africa

Demone in die Ou Testament

In die Ou Testament word demoniese wesens dikwels genoem, maar hulle ware identiteit en waarvandaan hulle kom, bly onduidelik. Hulle is meesal gevaarlike, bonatuurlike wesens wat rondom afgeleë gebiede rondswerf.

Geen eenvormige voorstelling

Die Ou Testament het nie een, eenvormige voorstelling van demone nie en gevolglik is daar nie een spesifieke woord in Hebreeus wat na hulle met ʼn versamelnaam verwys nie. Dit wil voorkom asof die siening oor demone in ou Israel toenemend negatief geword het, maar menings verskil oor presies hoe dit ontwikkel het.

Sommige eksegete aanvaar dat mense in ʼn vroeëre tydperk geglo het demone was geeste wat aan God behoort het. Hulle is soms deur God na mense toe gestuur om vir hulle ongeluk te bring. Dit was eers later dat mense begin glo het net goeie geeste is deur God gestuur , en dat demone bose geeste was, onafhanklik van God. Ander meen dat die mense van ou Israel altyd geglo het dat demone onafhanklike bose magte was.

Name vir demone

In die Ou Testament is daar verskillende wesens wat as “duiwels” geklassifiseer kan word. Hulle is dikwels wesens wat in gevaarlike gebiede woon. Hulle word gereeld uitgebeeld as ʼn kombinasie van mens en dier. Voorbeelde is:

  • Die veldduiwels wat sjedim in Hebreeus genoem word: bloeddorstige wesens wat kinderoffers vereis (Psalm 106:37).
  • Die woestynduiwels (zijjim and ijjim in Hebreeus) wat in bouvalle en in die woestyn woon en verwoesting simboliseer (Jesaja 13:21; Jesaja 34:14; Jeremia 50:39).
  • Die seirim (Jesaja 13:21): hul presiese identiteit is onseker, maar hulle is moontlik uitgebeeld as harige duiwels met sommige van die fisiese kenmerke van bokke (soos “saters”). Hulle swerf rond in onherbergsame gebiede. Levitikus 17:7 en 2 Kronieke 11:15 toon aan dat mense hulle (onwettig) aanbid het.
  • ​Die nagduiwel Lilith, wat verantwoordelik was vir siekte en natuurrampe. Sy word waarskynlik uitgebeeld as ʼn voël in Jesaja 34:11.

Demone wat deur God gestuur is

In die Ou Testament was daar ook demone wat deur God gestuur is om ongeluk oor mense te bring. In 1 Samuel 16:14 stuur God ʼn bose gees na Saul, wat veroorsaak dat Saul deur jaloesie verteer word. In Eksodus 12:23 (1933/1953-vertaling) stuur God die “verderwer” na Egipte om al die eersgebore seuns dood te maak. Hierdie “verderwer” kan ook gesien word as ʼn bose gees.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS