Bible Society of South Africa

Heiligheid in die Ou Testament: Heilige plekke

In die Ou Testament word verskillende plekke as heilig beskou:

  • die tabernakel;
  • die tempel;
  • die plekke waar God verskyn het;
  • die land van Israel en die stad Jerusalem;
  • die hemel.

Die tabernakel

Die tabernakel, wat as die heiligdom in die woestyn gedien het, is in drie dele verdeel met verskillende grade van heiligheid:

  • Die Allerheiligste: ʼn baie heilige plek aan die agterkant van die tabernakel, waar slegs die hoëpriester toegelaat is. Dit is waar die ark (verbondsark) gestaan het — die heiligste van al die voorwerpe (Eksodus 26:33).
  • Die Heilige: ʼn (minder) heilige gedeelte voor in die tabernakel waar, behalwe die hoëpriester, slegs die priesters toegelaat is (Eksodus 26:33).
  • Die ruimte rondom die tabernakel (“die voorhof”): die nie-heilige gedeelte waar die volk toegelaat is (Eksodus 27:9-19).

In die Tora word die tabernakel as geheel dikwels genoem die “tent van ontmoeting” (

ohel mo'ed

in Hebreeus; Eksodus 28:43) of die “heiligdom” (

miqdasj

in Hebreeus; Eksodus 25:8; en

haqqodesj

in Hebreeus; Eksodus 28:43).

Die tempel

Die tempel van Salomo was, soos die tabernakel, ingedeel in die Allerheiligste (die heiligste van die heiliges) en die heilige (ʼn heilige ruimte); 2 Kronieke 3:4). Die tempel word ook die “heiligdom” of die “heilige plek” genoem (Psalm 68:25). Dit geld ook vir die tempel wat Esegiël in ʼn visioen sien (Esegiël 43:21; Esegiël 45:1-2).

Plekke waar God verskyn het

Toe God Homself aan Moses in Eksodus 3:5 by Sinaiberg openbaar het, moes Moses sy skoene uittrek omdat die grond waarop hy gestaan het heilig was. Die heiligheid is veroorsaak deur God se teenwoordigheid. Om dieselfde rede moet die Israeliete hulleself heilig voordat God aan hulle verskyn op Sinaiberg (Eksodus 19). 



Die plekke waar God aan die aartsvaders verskyn, en waar die aartsvaders altare bou, is waarskynlik ook as heilige plekke gesien: Sigem in Genesis 12:6-7, en Bet-El in Genesis 28:10-22 en Genesis 35:1-5.

Die land Israel en die stad Jerusalem

Die Bybel verwys dikwels na die heiligheid van die land Israel (bv in Josua 22:19; Esegiël 4:13). ʼn Ander benaming vir Israel is “heilige berg” (Jesaja 11:9; Jesaja 57:13). Hierdie naam kan ook meer spesifiek verwys na die stad Jerusalem (sien Jesaja 66:20; Joël 3:17). Die stad Jerusalem is veral as heilig beskou (Jesaja 48:2).

Hemel

Soos God se woonplek op aarde (die tempel), is God se woonplek in die hemel ook heilig. Die terme wat gebruik word om die hemel aan te dui, sluit in “(u/sy) heilige woonplek” (Deuteronomium 26:15; Psalm 68:6) en “(sy) heiligdom” (Psalm 68:36; Psalm 150:1).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS