Bible Society of South Africa

Chanoeka

Chanoeka, wat die Hebreeuse woord vir “wyding” is, is die jaarlikse viering van die wyding van die tempel. Tydens hierdie fees is die herwyding van die tempel in Jerusalem in 164 v.C. gevier. Dit staan ook bekend as die “Fees van die Ligte”.

Oorsprong van Chanoeka

Chanoeka begin op die 25ste dag van die maand Kislev (November/Desember) en duur vir agt dae.

Die fees herdenk die gebeure wat in 1 en 2 Makkabeërs beskryf word. In die tweede eeu v.C. was Antiogus IV Epifanes die koning van Sirië. Judea het ook onder sy heerskappy geval. Hy het die tempel in Jerusalem ontheilig deur afgode daarin te plaas, wat daartoe gelei het dat die Joodse volk teen hom in opstand gekom het. In 164 v.C. is hy verslaan en die tempeldiens is weer ingestel.

Fees van die Ligte

Volgens tradisie het die ontdekking van ʼn oliekruik ʼn belangrike rol gespeel in die herwyding van die tempel. Toe die tempel gereinig moes word, moes hulle die lamp in die tempelheiligdom (sien Eksodus 27:20-21) weer aansteek. Hulle kon egter net ʼn klein bietjie suiwer olie, genoeg vir een dag, vind. Die lamp het wonderbaarlik aanhou brand vir agt dae, wat net genoeg was vir die herwydingseremonie. Hierdie wonderwerk word steeds herdenk deur die aansteek van ʼn spesiale lamp.

Tradisies

Na die verwoesting van die tempel deur die Romeine in 70 n.C. het die Joodse volk voortgegaan om Chanoeka te vier as die Fees van die Ligte. Sowel tuis as in die sinagoge word die “aansteker-kers” op die menora aangesteek. Die menora lyk soos die sewearmige kandelaar in die tempel, maar het agt arms. Soms het die lamp ʼn negende arm, wat gebruik word om die ander agt kerse aan te steek.
Kinders speel met ʼn draaitol waarop die eerste letters van die Hebreeuse woorde “ʼn groot wonderwerk het daar gebeur” gegraveer is. Hulle ontvang ook geskenke.
Om die wonderwerk met die olie te herdenk, eet mense oliebolle met ʼn konfytvulsel (sufganijot in Hebreeus) en aartappelpannekoeke wat in olie gebraai is (latkes in Hebreeus).

Verwante Bybelgedeeltes

4.36 - 4.61

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS