Bible Society of South Africa

Juweliersware in ou Israel

Argeoloë het die volgende juweliersware in Israel gevind waarvan die meeste ook in die Bybel vermeld word:

  • halssnoere;
  • ringe;
  • oorringe;
  • neusringe;
  • armbande;
  • enkelringe;
  • “fibulas”/spelde.

Halssnoere

ʼn Baie gewilde soort halssnoer in Ou Testamentiese tye was ʼn string krale wat uit verskillende materiale gemaak is. Die krale is uit edelstene (soos karneool), glas, metaal of been gemaak. Metaalkrale kon pragtig versier word. Aan die kraalhalssnoer was hangertjies van been, ivoor, (half)edelgesteentes of metaal. Die hangertjies was byvoorbeeld silindervormig of halfmaanvormig. Soms is ʼn flessie parfuum aan die halssnoer gehang.



In die Ou Testament is daar verwysings na halssnoere in Hooglied 1:10, Hooglied 4:9 en Esegiël 16:11

Ringe

Ringe is dikwels van silwer gemaak en het ʼn eenvoudige vorm gehad. Sommige ringe het ʼn seëlsteen of ʼn skarabee daaraan gehad. Seëlringe is hoofsaaklik deur mans gedra, en ander soorte ringe is deur vroue gedra.



Ringe kan in die Bybel gevind word, byvoorbeeld in Genesis 24:47, Spreuke 25:12, Hooglied 5:14 en Hosea 2:12. Ringe word ook in Jesaja 3:16-24 genoem waar al die pragtige juweliersware opgesom word wat die ryk vroue van Jerusalem gedra het.

Oorringe

Benewens eenvoudige sekelvormige oorringe, was oorringe met hangertjies baie gewild. Daardie hangertjies het met verloop van tyd groter en swaarder geword. Hulle kon bolvormig of ovaal wees, of in die vorm van ʼn blom, ʼn tossel of ʼn “mandjie”. Oorringe is van brons of silwer gemaak — goud was minder algemeen.



In Eksodus 32:2 kan ons lees van die Israeliete se goue oorringe wat Aäron gebruik het om ʼn goue afgod te maak. In Genesis 35:4 gee Jakob se familie en metgeselle hulle oorringe vir Jakob omdat hulle van alles ontslae moes raak wat hulle aan vreemde gode herinner het. 

Neusringe

Neusringe is gewoonlik in die regterneusgat gedra. Soms is dit versier met krale en hangertjies. In uitsonderlike gevalle kon dit ongeveer 8 sentimeter lank wees, in welke geval hulle voor die mond sou hang.



Daar is ʼn bybelse verwysing na neusringe in Genesis 24:22-30, waar Abraham se slaaf vir Rebekka ʼn neusring en ʼn armband gee.

Armbande

Armbande is gewoonlik van brons of minder gereeld van silwer of goud gemaak. Hulle is deur mans en vroue gedra. Mans het swaarder, dikker armbande gedra, en vroue het dunner en ligter tipes gedra. Armbande kon op die punte oop of toe wees. Oop armbande het soms punte gehad wat soos die kop van ʼn dier (bv ʼn slang se kop) gevorm is.



Die Ou Testament noem armbande in Numeri 31:50, Jesaja 3:19, Esegiël16:11 en Esegiël 23:42.

Enkelringe

Enkelringe is ook gedra. Dit is gewoonlik van brons, of uiters selde van silwer of goud gemaak. Dit is gewoonlik soos ʼn ring gevorm (eerder as ʼn ketting). In sommige tydperke het die enkelring inligting verskaf oor die huwelikstatus van ʼn vrou. Wanneer ʼn vrou ʼn enkelring aan albei enkels gedra het, het dit beteken dat sy ongetroud was, maar wanneer sy net een enkelring gedra het, was sy getroud.



Vir ʼn verwysing na enkelringe in die Ou Testament, sien Jesaja 3:18.

Fibulas

Sedert die Ystertydperk was “fibulas” in die mode in Israel. ʼn Fibula is ʼn soort veiligheidspeld in die vorm van ʼn driehoek of ʼn boog wat gebruik is om klere vas te maak. Dit is van brons of yster gemaak en is soms versier of bedek met ʼn laag groen pateen. 


 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS